Dr. Temba Sikhakhane, hoofdirekteur van staatsveeartsenydienste in KwaZulu-Natal se suidelike streek, het op die vergadering by Nottingham Road gesê selfs sy personeel word nie toegelaat om voertuie vir moontlike oortredings van dieregesondheidswetsgewing voor te keer en te deursoek nie tensy daar ’n gemagtigde wetstoepasser teenwoordig is. Hy het gevra dat selfs die weermag ontplooi word om die verbod op die verskuiwing van beeste af te dwing.
Hy het verduidelik dat ’n “baie toegewyde” span van 211 dieregesondheidstegnici sedert Maart vanjaar 256 000 diere in KwaZulu-Natal teen bek-en-klouseer ingeënt het. Baie diere is egter nog nie ingeënt nie, veral in KwaZulu-Natal se landelike kommunale gebiede. Dié diere hou ’n groot risiko in vir ander vee as hul eienaars besluit om die verbod op die verskuiwing van beeste te ignoreer.
“Ons het vyf briewe aan die nasionale gesamentlike operasionele sentrum geskryf om te verduidelik hoekom polisie- en weermaghulpbronne nodig is. Ek vermoed ons versoeke het nie eens die agenda gehaal nie. Vee-eienaars weet goed dat padblokkades tans baie beperk is en nie 24 uur per dag volgehou word nie. Hulle wag net tot ’n padblokkade weg is en dan skuif hulle diere padlangs. ’n Paar weke later sien ons dan nuwe bek-en-klouseer-uitbrekings elders.”