
Dr. Bothle Modisane, hoofdirekteur van die direktoraat veeartsenydienste van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, sê kwarantynmaatreëls is op minstens vyf kommersiële plase in Limpopo van krag nadat besmette beeste van ’n veiling daarheen vervoer is.
Modisane sê die oorsprong van die besmetting is ’n veiling wat by Ligkraal naby Dendron aangebied is. Die beeste is daarna na minstens vier plase vervoer. Die siekte is ook op ander persele aangetref wat met dié plase verbing word.
“Die beheer van diere op veilings is altyd problematies,” sê hy.
Die doel van die tydelike opskorting van veeveilings in Limpopo en die aangrensende Mpumalanga, Gauteng en Noordwes is juis weens die verspreiding van die siekte ná die Dendron-veiling.
Hy sê die departement is deeglik bewus van hoe ekonomies belangrik veilings in die veebedryf is, maar totdat die volle omvang van die probleem vasgestel kan word, sal die verbod op veilings in dié provinsies voortduur.
Hy het hom op veeboere, afslaers, spekulante en vervoerkontrakteurs beroep om hulle by die beperkings in die vier provinsies te hou.
Mnr. Koos van der Ryst, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê dieregesondheid en siektebekamping, veral in die geval van bek-en-klouseer, moet beter op nasionale vlak bestuur word.
Hy het die noodsaaklikheid van ’n nasionale naspeurbaarheidstelsel beklemtoon, asook die verdeling van die land se veestreke om die onsekerheid te beperk wanneer die siekte uitbreek en om te keer dat belanghebbendes soos “afkophoenders” rondhardloop.
“Onvoldoende maatreëls ten opsigte van dieregesondheid benadeel die plaaslike mark én die rooivleisuitvoermark. Dit veroorsaak onjuiste indrukke oor die Suid-Afrikaanse veebedryf.”
‘Net slagdiere mag vervoer word’
Intussen het die departement en die nasionale dieregesondheidsforum gesê lewende gespletehoefdiere mag nie verskuif word tot die huidige situasie gestabiliseer is nie. Slegs diere wat gesond is en dadelik geslag gaan word, mag vervoer word. Verder moet alle aankopers van vee seker maak die diere is vry van siektes, veral bek-en-klouseer.
Enige verhandeling van gespletehoefdiere moet van ’n veeartsenykundige sertifikaat, uitgereik deur ’n veearts, vergesel word. Voertuie wat diere vervoer, moet ook deeglik ontsmet word – ver van enige ander diere – voor die volgende vrag diere gelaai word. Voertuie wat vee na abattoirs vervoer, moet ook ontsmet word voor die abattoirperseel verlaat word.
Die departement het gewaarsku dat diegene wat die verspreiding van bek-en-klouseer deur die beweging en vervoer van vee toelaat, siviel en strafregtelik vervolg kan word.
Enige persoon wat met die siekte in aanraking kon gekom het, moet die nodige stappe doen om ander klere en skoene aan te trek voor hy of sy met gesonde diere werk.
Vir bystand om die siekte te beperk, kan ’n plaaslike of staatsveearts gekontak word vir biosekerheidsriglyne of om ’n biosekerheidsplan vir die plaas op te stel.
Deur by die riglyne te hou en redelik en verantwoordelik op te tree, terwyl hulle op die hoogte van die situasie bly, kan die belanghebbendes help om die situasie te beredder.
Die departement en die nasionale dieregesondheidsforum het voorgestel dat alternatiewe opsies vir die verhandeling van vee ook oorweeg word. Dit sluit een-tot-een-transaksies van gespletehoefdiere (wild ingesluit), asook elektroniese veilings in, maar slegs indien alle biosekerheidsprotokolle, kwarantynstappe, veeartsenykundige sertifikate en naspeurbaarheidsregulasies reg is voor die verhandeling plaasvind.