
Didiza se besluit is gegrond op inligting wat van staatsveeartse, private veeartse en dieregesondheidstegnici ontvang is.
Volgens haar het die samewerking van tradisionele leiers, gemeenskappe en die polisie daarin geslaag om die verspreiding van die siekte te beperk.
Verder sê sy dit is bemoedigend dat geen gevalle van die siekte voor of gedurende die verbod in die Noord-, Wes- en Oos-Kaap aangemeld is nie. In Gauteng en Noordwes is vermoedelike gevalle van die siekte rondom plase onder kwarantyn aangemeld. Geen nuwe gevalle is die afgelope week in Mpumalanga aangemeld nie.
Siektebeheergebiede behou
“Ons sal die siektebeheergebied in en om die beskermde gebied in Limpopo behou. In die Vrystaat sal die siektebeheergebied daardie gebiede insluit waar geen verbetering opgemerk is nie, soos Marquad, Viljoenskroon en Harrismith.”
In KwaZulu-Natal sal die siektebeheergebied behou word in KwaNongoma, Ulundi, KwaHlabisa, eHluhluwe en eMtubatuba.
Daar is egter voorwaardes vir die verskuiwing van diere. Die verskuiwing van diere moet gepaard gaan met:
- ’n Verklaring deur die eienaar dat die diere teen bek-en-klouseer ingeënt is;
- ’n Onderneming deur ontvanger om diere vir minstens 28 dae in kwarantyn te hou; en
- Alle die nodige dokumente om vee-eienaarskap te bewys.
“Ons sal voortgaan met monitering en inenting in daardie gebiede met aktiewe besmettings. Ons doen ’n beroep op boere en gemeenskappe om aan die nodige gesondheidsprotokolle te voldoen en die onwettige verskuiwing van beeste en diere te vermy,” sê Didiza.
“Ons versoek ook weer beter primêre dieresorg en die versterking van biosekerheidsmaatreëls deur alle boere, voerkrale en afslaers.”