
Inflasie op voedsel en nie-alkoholiese drankies was 1,1% hoër vergeleke met Junie en 9,7% hoër vergeleke met die ooreenstemmende tyd verlede jaar. As gevolg daarvan het die verbruikersprysindeks met 1,7 persentasiepunte toegeneem tot 7,8%.
BFAP het bevind dat verbruikers vergeleke met verlede jaar veral meer betaal vir brood en grane (13,7%), asook olies en vette (36,2%). Die pryse in die kategorie vir vrugte het egter gedurende hierdie tydperk met 1,4% gedaal.
Volgens BFAP was die inflasie op die volgende items meer as 10%:
• Groente (spinasie, broccoli, blomkool, beet, uie, komkommer, tamaties, blaarslaai en kool);
• Vrugte (lemoene, avokado’s en appels);• Vette en olies (groente-olie en margarien);
• Peulplante (blikkiesbone en gedroogte bone);• Varkvleis (ham en spek);
• Drankies (Ceylon- en swarttee, koffie en vrugtesap);
• Koolhidraatryke voedsel (graanmeel, supermieliemeel, bruinbrood, pasta en witbrood);
• Beesvleis (T-been en borsstuk); en
• Blikkiesvis.
Die volgende goedere se inflasie was tussen 6% en 9%:
• Skaap- en lamsvleis (nek);
• Beesvleis (dikrib, kruisstuk, maalvleis en afval);
• Suiwel (jogurt, melk en kaas);
• Hoender (kitsbevrore porsies en pluimvee-afval); en
• Grondboontjiebotter.
Volgens BFAP het lae-inkomstehuishoudings in Suid-Afrika in Julie R76 meer as in Junie en R329 meer as in Julie verlede jaar op voedsel bestee. Daar moes dus 31,1% meer vir voedsel begroot word as in Julie verlede jaar.