
Lt. genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris, het die ondersoekspan geloof wat onverpoosd werk om verdagtes aan te keer ná die plaasaanval in die Nyl-gebied noord van Roedtan.
Luidens ’n polisieverklaring het vyf mans in ’n wit Toyota Corolla met ’n onbekende registrasienommer omstreeks 18:00 Vrydagaand op die plaas Derdekraalpoort in die Waterburg-distrik opgedaag onder voorwendsel dat hulle daar is om melk te koop.
’n Minderjarige vriend van Janse van Rensburg was alleen op die plaas en is in die woning aangehou. Toe Janse van Rensburg en sy lewensmaat later op die plaas aankom, is hulle ook deur die oorblywende vier verdagtes met vuurwapens aangehou. Volgens Netwerk24 is die lewensmaat me. Veronica (Katryn) Grobler.
Sy en die minderjarige is vasgebind en die rowers het geld van Janse van Rensburg geëis. Hy is met ’n ysterpyp oor die kop geslaan en gedwing om die kluis se sleutel te oorhandig.
Hulle het hom daarna na bewering ontwapen, doodgeskiet en met ’n geweer uit die kluis, selfone, rekenaar en ander waardevolle artikels in die voertuig gevlug. Grobler en die 15-jarige seun was deur die nag vasgebind in die huis en kon eers Saterdagoggend hulp ontbied.
’n Span ondersoekers is op bevel van Hadebe byeengekry om die verdagtes op te spoor en die voertuig is by Moletji in die Seshego-polisiegebied gewaar. Die voertuig is deursoek en daar is beslag gelê op twee 9 mm-pistoolmagasyne, 30 rondes ammunisie en twee ander magasyne. ’n Verdagte is in hegtenis geneem.
Brig. Motlafela Majopelo, polisiewoordvoerder in die provinsie, sê daar word steeds gesoek na die ander vier verdagtes. Mense met inligting wat kan help, word gevra om lt.kol. Justice Ngobeni by 082 565 8328, speur-adjunkoffisier Sbongile Maria Lekalala by 082 414 1822 of 082 925 2479 of die Stop Misdaad-nommer 086 001 0111 te kontak.
Aanslag op boere
Die VF Plus het intussen die plaasaanval veroordeel en sê daar is geen twyfel nie dat die aanslag op boere in felheid toeneem ná die hofuitspraak dat die struggle-lied “Kill the boer” nie haatspraak is nie.
Mnr. Marcelle Maritz, partyleier in Limpopo, wat die slagoffer se woning oor die naweek besoek het, sê die erns van die situasie verg nou dat die regering gedwing moet word om plaasaanvalle en plaasmoorde tot voorrangmisdaad te verklaar. “Nog leë woorde en ’n duidelike gebrek aan politieke wil om aan hierdie soort misdaad voorkeur te verleen, gaan moontlik lei tot ’n situasie waar landelike gemeenskappe geregtigheid in eie hande gaan neem.”
Hy vra landelike gemeenskappe om aan te sluit by georganiseerde veiligheidstrukture in hul omgewing om hulself binne die raamwerk van die wet te beveilig en verdedig.
Mnr. Henk van de Graaf, noordelike voorsitter van TLU SA, sê ook die uitspraak in die gelykheidshof oor “Kill the boer” kan ’n rol speel in die toename in plaasaanvalle. “ ’n Verkeerde boodskap wat in die gemeenskap ingaan, word maklik verkeerd hanteer.”