Tien mans wat ná ’n plaasaanval in die distrik Rosendal vir dié misdaad tereggestaan het, is glo weens swak ondersoekwerk vrygespreek.
Luidens ’n berig op die radiostasie OFM is die verdagtes Woensdag (28 September 2011) almal deur streeklanddros Ollie Koekemoer op Ficksburg vrygespreek.
Luidens die berig het Koekemoer gesê die ondersoek het veel te wense gelaat en dat dit “oppervlakkig, onakkuraat en traak-my-nie-agtig” uitgevoer is. Die 10 is aangekeer nadat me. Nellie Janse van Rensburg en haar bejaarde ma, wat in ’n rolstoel is, op die plaas Rooibult in Junie 2009 aangeval is.
Maklikste ding
Volgens Koekemoer sou dit glo die maklikste ding in die wêreld gewees het om die mans skuldig te bevind indien behoorlike getuienis gelewer is. Dit is glo nie gedoen nie. Selfs met die vuurwapens wat gevind is, is daar nooit bewys dat dit vir vingerafdrukke gestuur is nie.
Die landdros het vermeld dat die dag van die voorval talle polisiebeamptes en selfs senior beamptes op die toneel was. Maar swak polisieondersoekwerk is gedoen en “die strafregstelsel het die klaers in die steek gelaat”.
Kommer
Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van Vrystaat Landbou se veiligheidskomitee, sê dit is uiters betreurenswaardig dat die skuldiges weens beweerde swak polisiewerk nie vir dié misdaad aan die pen gaan ry nie.
“Die feit is, mense raak besorg en bekommerd as die staat nie sy verantwoordelikheid nakom om hulle veilig te hou en misdadigers vas te trek nie. Dit lyk asof daar ’n vaardigheidstekort onder sommige beamptes is wanneer dit by behoorlike ondersoekwerk kom,” aldus Breytenbach.
Bron: OFM
28 September 2011