
Die voorstel dat die helfte van plase aan werkers gegee moet word, is nie goed deurdink nie, en behoort opsygeskuif te word, sê dr. Stephen Greenberg, 'n onafhanklike navorser oor grond, voedselstelsels en landbou.
Greenberg het Maandag op die Redi Thlabi Show op die radiostasies Cape Talk en 702 gesê dis belangrik dat ekonomiese bates in Suid-Afrika verdeel word, maar nie op die manier wat mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, se plan voorstel nie. Eweneens dink hy nie plaaswerkers gaan veel baatvind by die bestaande voorstel nie, of dat dit landelike ekonomieë vorentoe gaan neem nie.
Me. Nikiwe Bikitsha, wat die onderhoud met Greenberg gevoer het, het gevra hoe herverdeling dan gedoen moet word. Hy het gesê die Regering moet ophou om algemene of omvattende oplossings voor te stel omdat daar in elke konteks 'n ander oplossing nodig is. "In enige funksionerende kommersiële boerdery moet daar nie net maniere gevind word om die ekonomiese bates te verdeel nie, maar ook die vermoë om besluite te neem."
Tog glo hy boerdery-eienaars kan nie op 'n kragdadige wyse gedwing word om vaardighede aan werkers oor te dra nie. Greenberg sê 'n verdere probleem is dat die plan net plaaswerkers meld, en nie plaasbewoners nie. "As grond net aan werkers oorgedra word, gaan die verblyfreg van die res van sy gesin en ander plaasbewoners onseker bly."
Behalwe dat daar nie duidelikheid is oor hoe die oordrag van boerderygrond aan plaaswerkers gemaak sal moet word nie, is plaaswerkers nie geraadpleeg nie. "Ek dink die plan moet opsygeskuif word en die Departement van Landbou moet teruggaan na plaaswerkers toe en vra wat húlle wil hê."
Volgens die huidige plan gaan plaaswerkers baie ongelyke hoeveelhede grond kry. Greenberg het gesê daar is ook nie sekerheid of die verdelingsplan gaan oor 'n 50%-deel van die grond of 50% van die boerderybesigheid nie, en hoe die ontwikkelingsfonds gaan werk of wie dit gaan bestuur nie. Die ontwikkelingsfonds waarin die "vergoeding" vir helfte van die plaas betaal sal word, lyk vir hom na 'n fonds wat "alles vir almal" sal moet wees omdat daar verwag word dat die plaas daaruit ontwikkel moet word én mense wat nie deel daarvan wil wees nie, moet uitbetaal. Hy meen daar gaan nie genoeg geld wees vir alles nie.
'n Inbeller van die Paarl het gevra hoekom dit altyd net boere is wat hul bates moet opgee en nie mense wat nywerheidsgrond of klein ondernemings besit nie. Greenberg het gesê hy stem heelhartig saam dat boere nie alleen vir herverdeling geteiken moet word nie. "Ons moet kyk wat gebeur as ons 'n verdelingsmodel vir alle ekonomiese bates in die land opstel, dog dit kan groot probleme veroorsaak met grondwaardes en eienaars se vermoë om lenings te kry. Dit is alles nou verbind met die ekonomie en die finansiële stelsel."