
“Ons is midde-in die baklei – nog nie klaar nie,” sê mnr. Deon Joubert van die Suider-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SASKV), wat hard baklei het teen die nuwe reël wat die Europese kommissie se staande komitee op plante, diereprodukte, voedsel en voer vroeër vanjaar voorgestel het.
Spanje het druk op die Europese Unie uitgeoefen om kouesterilisasie verpligtend te maak vir sitrus uit lande waar valskodlingsmot (Thaumatotibia leucotreta) voorkom.
Die reël, wat op 27 Mei aanvaar is, bepaal dat lemoene uit Suid-Afrika en Zimbabwe kouesterilisasie moet ondergaan, wat beteken dat dit voor verskeping by die uitvoerhawe tot 5 °C afgekoel moet word en dan vir 25 dae voor verskeping tot tussen -1 °C en -2 °C afgekoel word.
Boere moet ook die nuwe fotosanitêre sertifikaat hê wat aandui dat die lemoene in ’n gemagtigde gebied gekweek is.
Lemoene wat teen vandag verskeep is, word van die reël vrygestel mits hulle voor 14 Julie in Europa aankom.