
Dít was die raad van verskeie kenners wat aan ’n groenkrag-webinaar van Agri SA en Farmer’s Weekly deelgeneem het.
Mnr. Chris Schutte, direkteur van Sonfin, ’n maatskappy wat in die oprigting van sonkragaanlegte spesialiseer, het beklemtoon dat dit meer as ’n jaar duur om al die papierwerk en prosesse gereed te kry.
Die proses om goedkeuring by Eskom te kry, duur van drie tot ses maande, om ’n begroting op te stel kan van drie tot ses maande duur en dan kan dit ’n verdere drie maande duur om goedkeuring by die nasionale energiereguleerder (Nersa) te kry. “Moet onder geen omstandighede voortgaan om ’n aanleg op te rig voor al hierdie prosesse gereed is nie. ’n Fout kan mens duur te staan kom.”
Hy sê pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat opwekking van tot 100 MW toegelaat sal word, geld nog net kommersiële aanlegte. Aan die landboukant laat Eskom boere net toe om 1 MW aan sy netwerk te koppel. Nersa se prosesse laat net die registrasie van 1 MW toe, en dit het twee jaar geduur om selfs net dit goedgekeur te kry.
“Ek wil nie pessimisties wees nie, want ten minste beweeg ons in die regte rigting. Daar is ten minste ’n plan om die kragkrisis opgelos te kry. Ons gaan nog twee tot drie jaar met beurtkrag sit, maar namate ál meer groenkragstelsels aan die netwerk gekoppel word, sal daar meer elektrisiteit vir Eskom beskikbaar wees. Hierdie is ’n goeie belegging en boere wat daarby betrokke wil raak, is op die regte pad.”
Beplanning saam met kenners belangrik
Dr. Tokka van den Heever, ’n tafeldruiweboer van Kakamas wat twee sonkragaanlegte het en besig is met ’n derde een, sê dit is belangrik om met die hulp van kenners die prysstrukture en kragverbruik te beplan. Krediete vir krag wat in die netwerk ingevoer word, kan net in dieselfde tydsones vir ’n hoë- of laeverbruiksvraag benut word as waarin dit ingevoer is en as daar teen Eskom se jaareinde krediete oor is, verloor die boer dit.
“Dit het met ons gebeur en daarom glo ek jy het ’n kenner nodig om jou te help om jou energieverbruik te help beplan.” Hy sê boere besef ook nie altyd dat daar steeds ’n vaste koste aan Eskom verskuldig is nie. Die besparing is net op die energieverbruik. Selfs al het hulle foute begaan, was hul besparing nogtans 10% hoër as wat hulle verwag het en dan lê die vooruitsig ook voor dat as die aanlegte klaar betaal is, die energieverbruik gratis is.
Mnr. John Hudson, landbouhoof van Nedbank, het die belangrikheid van die beplanningsproses beklemtoon. “Dit is baie ingewikkelder as wat mens dink en ’n groot finansiële besluit. As dit nie reg gedoen word nie, kan dit ’n mens in die rug byt. ’n Mens doen dit om risiko’s te verminder en nie om jou eie ondergang te bewerkstellig nie.”
Oor die suikerbedryf se energieplanne het mnr. Richard Nicholson, ekonomiese navorsingsbestuurder van die Rietkwekersvereniging, gesê die bedryf kan 700 MW tot 800 MW aan die land se netwerk verskaf, maar dit is nie in hierdie stadium ekonomies haalbaar nie. Die bedryf vestig nou sy hoop op die vervaardiging van vliegtuigbrandstof wat ingevolge ’n regulasie van die Europese Unie teen 2030 minstens 50% biobrandstof moet bevat.
Hy sê die vraag sal daar wees om 50% van Suid-Afrika se suikerriet vir biobrandstof te benut. Sowat 2,4 miljard liter etanol sal jaarliks vir vliegtuigbrandstof vervaardig kan word. Die ander benutting van suikerriet is om biogas te vervaardig vir suikermeulens en plase se energieverbruik.