
Verhoogde globale en plaaslike risiko’s vir inflasievooruitskouings met die oorlog tussen Rusland en Oekraïne wat sake verder bemoeilik, het daartoe bygedra dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) besluit het om die repokoers met 25 basispunte tot 4,25% te verhoog. En dit is nié goeie nuus vir boere met skuld nie.
Mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB Agribesigheid, sê dit sal boere meer kos om hul skuld te delg saam met hoër insetkoste weens stygings in die pryse van brandstof, bemesting, insek- en onkruiddoders.
Die vertroue in die landbousektor, soos deur Agbiz en die nywerheidsontwikkelingskorporasie gemeet, staan tans op 62, wat 12 punte laer as in vanjaar se eerste kwartaal is.
Volgens Makube het relatief lae rentekoerse en sterk kommoditeitspryse in die verlede boere in ’n gunstige posisie geplaas om nie net hul skuld te kan delg nie, maar ook meer masjinerie en toerusting te koop. Verlede jaar het die totale verkope van trekkers en stropers met onderskeidelik 26,4% en 44,9% vergeleke met 2020 se verkope toegeneem.
Hoewel die totale verkope van trekkers en stropers gedurende die eerste twee maande van vanjaar onderskeidelik met 20% en 21% teenoor die ooreenstemmende periode verlede jaar toegeneem het, word verwag dat ’n kleiner somergewasoes en hoër rentekoerse ’n demper op dié momentum sal plaas.
Makube sê bedryfsleiers het reeds voorspel dat 10% minder stropers vanjaar verkoop sal word.
“Nietemin is die sektor steeds in ’n goeie posisie ten spyte van onsekerheid weens geopolitiese gebeure in Europa wat nadelige gevolge op invoerders en koste van insette kan hê. Ons meen steeds dat betreklik sterk kommoditeitspryse sal help om die druk van hoër koste op die sektor te verlig.”
Volgens Makube kan verdere verhogings in die toekoms verwag word aangesien twee lede van die monitêre beleidskomitee gestem het dat die repokoers met 50 basispunte verhoog moes word. Hy sê FNB verwag dat die SARB met geleidelike verhogings van 25 basispunte sal voortgaan elke keer as die komitee vergader om teen die einde van die jaar ’n repokoers van 5,25% te bereik.
’n Verdere verslegte van globale omstandighede weens covid-19-golwe en ’n oplewing in inflasie kan bewys dat diegene reg was wat ten gunste van ’n meer aggressiewe benadering was.
“Die implikasies vir boere is dat hulle hul opsies versigtig moet opweeg wat finansiële en die konsolidasie van skuld betref.”