Agri SA en die Onafhanklike Verkiesingkommissie (OVK) het ’n landelike protokol vir die komende verkiesing onderteken.
Mnr. André Botha, die voorsitter van die organisasie se komitee vir Wet en Orde, sê voor elke verkiesing onderteken hulle ’n protokol om onder meer die grense van landelike wyke vir die verkiesing neer te lê.
Botha sê as daar byvoorbeeld ’n skool op ’n plaas bestaan en dit is sentraal geleë, mag die OVK vra of stembusse by die lokaal opgerig mag word.
Die protokol
Botha sê volgens die protokol mag die OVK toegang tot ’n plaas verkry om werkers oor die verkiesingsproses in te lig en hulle op te lei. Verder bepaal dit dat werkers buite werksure aan verkiesingsaamtrekke mag deelneem, en dat hulle op verkiesingsdag tyd moet kry om te stem.
“Die protokol bepaal ook dat die OVK se werkers, wanneer hulle ’n plaas wil besoek, ’n afspraak met die betrokke boer moet maak om toegang tot die plaas te verkry,” sê Botha. Hy sê die OVK het die protokol onderteken, so hulle verwag dat die kommissie hom by die bepalings sal hou.
Die protokol is Woensdag, 20 April 2011, in Balfour in Mpumalanga onderteken.
21 April 2011