
Dit beteken die transaksie van R5,3 miljard is weer op koers en dat Tongaat Hulett nóg ’n groot deel van sy skuldlas van R13 miljard kan delg. In Februarie vanjaar is aangekondig dat Barloworld die styselafdeling sou koop.
Teen Mei het Barloworld egter probeer kop uittrek en beweer dat Covid-19 intussen ’n wesenlike ongunstige verandering in die styselafdeling se waarde veroorsaak het, wat hom toelaat om die koop te kanselleer.
’n Onafhanklike arbiter, Rothschild & Co SA, is toe aangestel om uitsluitsel oor die dispuut gee. As die styselafdeling ’n daling van 17,5% in sy verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywing (ebitda) aanteken, sou dit genoeg wees om die koop te kon kanselleer. Die arbiter het nou bepaal die ebitda van die styselafdeling sal redelikerwys nie met dié persentasie daal nie.
Die oordrag van die onderneming na Barloword vind nou in November plaas.
Barloworld sê in ’n verklaring hy is bly die eenheid het veerkragtig vertoon tydens die pandemie.
Op sy beurt sê mnr. Gavin Hudson, uitvoerende hoof van Tongaat Hulett, noudat die dispuut uit die weg geruim is, gaan sy maatskappy volstoom voort om die transaksie afgehandel te kry.