
Dit volg nadat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, so ’n bepaling in die regulasies vir rampbestuur tydens die staat van inperking afgekondig het.
Sedert mnr. Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, op Donderdag 16 April gesê het dat die verkoop van gaargemaakte kos “volgens wet” gedurende die inperkingstyd verbied word, het Suid-Afrikaners hul frustrasie en ontevredenheid hieroor op verskeie sosialemediaplatforms uitgespreek.
Só ’n regulasie het nie bestaan nie en die DA en Sakeliga sou vandag (Maandag 20 April) met hofaksie teen hierdie besluit van Patel begin het. Dlamini-Zuma het egter ’n wysiging aangebring wat vandag in die Staatskoerant afgekondig is, wat aandui dat die verkoop van “warm, gekookte kos” verbied word.
Mnr. Dean Macpherson, die DA se skaduminister vir handel en nywerheid, sê Dlamini-Zuma het op die nippertjie ingespring om Patel van ’n regsgeding te red deur die regulasies te wysig.
Hy sê die wysiging wat die verkoop van warm, gekookte kos onwettig maak, is harteloos aangesien gesondheidswerkers, vragmotorbestuurders en ander mense wat noodsaaklike dienste verrig, op die koop van gekookte kos staatmaak weens die werk wat hulle doen. Dit maak ook die lewe moeilik vir bejaardes wat nie self kos kan kook nie. Macpherson sal deur sy prokureurs die rede vir die verbod op gaar kos aanvra.
Intussen is daar nog geen regulasie afgekondig wat die verkoop van sigarette verbied nie, hoewel verskeie ministers die verkoop van tabakprodukte as onwettig verklaar het.