
Vanaf middernag vanaand sal brandstofpryse as volg wees:
Petrol van alle grade: 59c per liter duurder
Diesel met 0,05%-swael: R1,57 per liter goedkoper
Diesel met 0,005%-swael: R1,52 per liter goedkoper
Paraffien: 76c per liter goedkoper
Gas: 95c per kilogram duurder
Luidens ’n verklaring deur die departement van energie is die hoër petrolprys weens ’n toename in vraag in veral Amerika te midde van beperkte voorraad weens die oorlog tussen Rusland en Oekraïne.
Raffinaderye vervaardig ook eerder meer distillate soos diesel, paraffien en gas om aan bykomende wintervraag in die Noordelike Halfrond te voldoen.
Goeie nuus
Terwyl hoër petrolpryse slegte nuus vir die algemene verbruiker is, is laer dieselpryse baie goeie nuus vir produsente wat steeds besig is met planttyd, sê mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou.
“Dit is ’n redelike laat plantseisoen weens al die reën so daar is steeds ’n groot behoefte aan diesel, veral in terme van die vervoer van insette. Aan die ander kant sal die vervoerkoste van voedselprodukte ook afneem.”
Hy waarsku egter dat dit sowat ’n maand kan neem voor vervoerkostes sal daal.
Indien die tendens met brandstofpryse so voortgaan, meen hy dat die baie goeie nuus vir die plaaslike ekonomie sal wees, veral wat inflasieverwagtinge betref. “Baie hang natuurlik af van oliepryse en die wisselkoers, wat tans weens die politieke situasie in Suid-Afrika wisselvallig is.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.