Verskeie belanghebbendes in die suiwelbedryf is verlig dat die Mededingingskommissie sy saak teen die bedryf laat vaar het. Die kommissie het Woensdag (20 April) aangekondig dat die saak laat vaar is. Die besluit is gegrond op ’n vroeëre beslissing van die Appélhof in Bloemfontein.
Lees hier meer oor die besluit.
Invloed op boere
Mnr. Déan Kleynhans, voorsitter van die Melkprodusente-organisasie (MPO), sê die MPO is een van die partye wat in ’n mate verlig is oor die stap. Hy sê hulle was onseker oor die invloed wat moontlike boetes op die betrokke maatskappye en gevolglik boere sou hê: “So ’n boete sou kon deursyfer na boere en die res van die waardeketting”.
Volgens Kleynhans is dié stap ook ’n goeie aanduiding dat dié regstelsel werk. Hy sê duidelike bewyse van prysknoeiery kon gevind word in byvoorbeeld die saak teen Pioneer Foods en die maatskappy is vervolg. In die saak teen die suiwelbedryf was daar nie genoeg getuienis nie, en dis teruggetrek. “Ek meen dis ’n goeie toets vir die stelsel en dit wys dat dit werk.”
Regskoste meer as R5 miljoen
Intussen sê mnr. Manie Roode, adjunk uitvoerende hoof van Clover SA, hulle is baie dankbaar dat die saak teruggetrek is. “Die hangende swaard bo ons koppe is verwyder en nou kan sake soos normaal voortgaan.” Hy sê die saak van sowat vyf jaar het die maatskappy meer as R5 miljoen in regskoste gekos.
Voorts wag die maatskappy nog op terugvoer van die Departement van Handel en Nywerheid nadat hulle die departement drie jaar gelede met ’n versoek genader het. Roode sê hulle het die departement volgens wet gevra om die bedryf by te staan, belanghebbendes te nader vir voorstelle om die bedryf te bevorder en om riglyne te verskaf oor die uitruiling van inligting.
20 April 2011