
Die polisie in Noordwes sê mnr. Itemogeng Joseph Khavango (34) het Woensdag (21 Desember) in die hof in Vryburg verskyn op ’n klag van die besit van vermoedelik gesteelde vee.
Hy bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning op 23 Januarie vir ’n formele borgaansoek.
Khavango is in hegtenis geneem nadat lede van die Vryburgse eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies inligting ontvang het dat ’n persoon skape by die Stella-slagplaas verkoop. Altesame 15 skape is in die beskuldigde se besit gevind. Hy is in hegtenis geneem nadat hy nie rekenskap van die skape kon gee nie.
Die polisie sê die voorlopige ondersoek het daartoe gelei dat die eienaar van die skape gevind is, wat hulle geïdentifiseer het.
Brig. Tshenolo Tlotleng, waarnemende distrikskommissaris van die Dr Ruth Segomotsi Mompati-distrik, het die betrokke polisielede geloof vir hul toewyding wat gelei het tot die inhegtenisname en terugvind van die vermeende gesteelde lewende hawe.