
Die Regering se besluit om die vervaardigers, invoerders en uitvoerders van graanprodukte wetlik te verplig om voortaan gereeld oor hoeveelhede verslag te doen, is in dié bedryf verwelkom.
Alle vervaardigers, invoerders en uitvoerders van mielie- en koringprodukte moet luidens ’n afkondiging in die Staatskoerant by die SA Graaninligtingsdiens (Sagis) registreer en gereeld opgawes by dié diens indien.
Dít sal Sagis in staat stel om voortaan presiese statistieke te kan byhou oor hoeveel wit- en bruinbrood maandeliks in Suid-Afrika gebak word.
Dié soort markinligting het ’n paar jaar gelede verlore begin gaan nadat ’n uitspraak deur die Mededingingskommissie bedryfsorganisasies verbied het om dit in te samel. Organisasies het opgehou om rekord te hou uit vrees dat hul lede van pryssamespanning aangekla kon word.
Mnr. Nico Hawkins, uitvoerende hoof van Sagis, moedig vervaardigers, invoerders en uitvoerders aan om solank te registreer. Dan sal Sagis-personeel met hulle in verbinding tree oor hoe om in die toekoms gereeld hul opgawes in te dien, hetsy per e-pos of faks. Sagis werk nou aan ’n elektroniese stelsel, soortgelyk aan die een waarmee belastingbetalers hul opgawes deur die internet kan indien, vir al die geregistreerde vervaardigers, uitvoerders en invoerders.
Daar word gehoop dat soortgelyke regulasies vir die oliesaad- en veevoerbedryf ook metterty sal volg.