
Boere en inwoners van die distrik Pongola vrees dat ekonomies belangrike toegangspaaie na die dorp onbegaanbaar kan word.
Grond in die oostelike helfte van KwaZulu-Natal wat reeds vanaf begin Desember verlede jaar deur reën versadig is, kan nie die uitermate swaar reën wat sedert gistermiddag daar bly val, hanteer nie. Brûe en laaggeleë paaie in stroomopgebiede oorstroom reeds. Stroomaf word oorstromings gevrees omdat vol riviere by mekaar aansluit, wat die volumes water en die krag waarmee dit vloei drasties laat toeneem.
Mnr. Ralf Küsel, ’n saai-en-veeboer van die distrik Paulpietersburg in verre Noord-KwaZulu-Natal, sê op 5 Januarie van 19:00 tot middernag het hy en boere in sy omgewing stortbuie van 115 mm tot 190 mm gekry.
“Ons plaaslike riviere was gisteraand in vloed. My buurman se rivieroewerpomphuis is weggespoel en ek kan nie by my eie pomphuis uitkom nie, want die toegangspaaie en laagwaterbrûe is oorstroom. Landerye langs riviere óf steeds oorstroom óf verspoel omdat die grond reeds versadig was weens die nat seisoen wat ons tot dusver gehad het.”
Mnr. Kurt Stock, ’n suikerrietkweker in die distrik Pongola in Noord-Zoeloeland, sê sy gebied het oornag van 30 mm tot 85 mm gekry, en dit reën steeds. Hoewel daar nog geen vernietiging van landerye in sy omgewing aangemeld is nie, sê Stock daar is distrikspaaie wat erg verspoel is.
“Ons grootste bekommernis is die water wat afkom. Ek het gehoor dat die Pongolorivier stroomop reeds in vloed is. Daardie water het ons nog nie bereik nie. Sy vloedwater sal aansluit by vloedwater van kleiner sytakke. Ons verwag ’n groot klomp water. Dit kan ons twee hoofbrûe bedreig wat Pongola met Durban en Pongola met Ulundi en Vryheid verbind. Dit blyk dat daar moontlik meer water kom as tydens sikloon Domoina.”
Mnr. Dreyer Senekal, ’n suikerrietboer in die distrik Mkuze in Zoeloeland, sê sy plaas het gisteraand 38 mm tot 44 mm gekry, wat welkom is vir sy oeste. Hy sê die Pongolorivier voed die Jozini-dam voed waaraan Senekal broodnodige besproeiingswater onttrek. Dié rivier se huidige en verwagte sterk vloei sal help om die dam se vlakke te verhoog van die byna 80% waarop dit tans staan, tot hopelik sowat 90%.
Mnr. Herman de Wet, ’n saai-en-veeboer in die distrik Rorke’s Drift in KwaZulu-Natal se, sê hoewel die langtermyngemiddelde jaarlikse reënval vir die nabygeleë distrik Dundee 779 mm is, het dié distrik verlede jaar 1 123 mm ontvang. Baie grond daar is dus deurweek en kan nie meer onlangse en huidige reën opvang nie.
“Daar is gewaslande waar die kontoere nie die onlangse swaar reën kan hanteer nie en dus is daar oorstromings en afloop wat veroorsaak het dat dongas gevorm het en oeste versuip of wegspoel. Dit is ook moeilik vir boere om in hul lande te kom om kunsmis en gewasbeskermingsmiddels toe te dien. Oeste wat einde Oktober en vroeg in November geplant is, vaar egter baie goed met die vog en sommige boere verwag rekordopbrengste.”
Nóg waarskuwings uitgereik
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gister (Donderdag, 5 Januarie) opnuut waarskuwings uitgereik vir swaar reën wat vandag vloede en ontwrigting in verskeie provinsies kan veroorsaak.
Oranje vlak 9-waarskuwings is vir die noordoostelike dele van KwaZulu-Natal en die oostelike dele van Mpumalanga uitgereik. Dit kan tot oorstromings van paaie en nedersettings, asook lewensgevaarlike toestande lei en skade aan eiendom, modder- en rotsstortings en ontwrigting van vervoerdienste veroorsaak.
’n Geel vlak 4-waarskuwing is vir die suidwestelike dele van KwaZulu-Natal uitgereik en ’n oranje vlak 5-waarskuwing vir dele van die Oos-Kaap.
’n Geel vlak 2-waarskuwing is uitgereik vir Gauteng, Limpopo, die suidwestelike dele van Mpumalanga en dele van die Oos-Kaap, insluitend die metropolitaanse gebied Buffalo City.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.