
Miljoene rande se skade weens te veel reën is aan gewasse in die somerreënvalgebied aangerig met meer reën wat steeds voorspel word en die uurglas wat leeg loop om die versuipskade te beperk.
“Hier is ’n ramp op pad,” sê mnr. Janes Barnard, boer van Hoopstad en mede-organiseerder van die gespreksgroep Basis-Diff. “Hier sal ’n wonderwerk moet gebeur die volgende paar maande. Ek kan nie sien hoe ons boere gaan oorleef moet hierdie seisoen se skade en hoë produksiekoste nie, om nie eens te praat van die insetkoste-skok wat in 2022 wag nie.”
Mnr. Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), sê versuipskade is ’n probleem in groot dele van die provinsie. “Die skade is veral groot waar mielies later aangeplant is en die klein plantjies in die water staan. Daar is plekke waar boere glad nie in die lande kon kom om nog mielies of sonneblom te plant nie en daar is boere wat ook nie hulle koring kon stroop nie. Koring wat vroeër pragtig gelyk het, het verswak tot voergraad.”
Mnr. Hendrik Knobel, streekverteenwoordiger van VL by Bethlehem, sê hulle staan reeds op 300 mm reën vir Desember terwyl die gemiddeld oor die afgelope sowat drie dekades 120 mm is.
“Die jong mielies is al geel terwyl die ouer mielies darem beter lyk. Die eerste koring is ook reg om te stroop maar ons kort een tot twee weke se sonskyn daarvoor terwyl daar nog reën voorspel word. Ons moet ook nog 300 ha suikerbone plant en gaan seker nie daarby uitkom nie.”
In die omgewing van Jacobsdal was dit nie net reën wat skade veroorsaak nie. Op Kersdag het ’n haelbui groot skade aan druiwe, mielies en koring aangerig. Mnr. Kempen Nel, streekverteenwoordiger, sê hulle probeer nou soveel moontlik lusern sny wat ook deur die hael verniel is, om nuwe groei te probeer kry. “Verder is Eskom ’n groot probleem. Hier is mense wat al meer as 21 dae sonder krag sit.”
Tussen Dewetsdorp, Wepener en Vanstadensrus het daar reeds sowat 182 mm reën in Desember geval teenoor die gemiddeld oor die laaste 20 jaar van 81 mm. Mnr. Johan Fourie, VL-verteenwoordiger, sê veeboere sukkel met skape wat vrotpootjie en parasiete kry maar die reën belemmer pogings om hulle te behandel.
“Verder is ons someraanplantings min en onkruid kan nie beheer word nie. Meeste plaasdamme loop oor en spruite loop sterk.”
In die omgewing van Bultfontein staan die reënval vir die maand op 230 mm terwyl die vorige agt jaar se gemiddeld vir Desember 63 mm is.
Mnr. Boy Saaiman, VL se verteenwoordiger in Kroonstad en Steynsrus, sê meeste boere kon nog nie klaar plant nie. Die gewasse is jonk en daar is dele waar hulle versuip en nie die oormaat water kan hanteer nie. Daar is ook boere wat nog nie koring kon stroop nie.”
In hierdie omgewing het 223 mm al in Desember geval teenoor die gemiddeld van 95 mm.
Mnr. Jurg Becker van Reitz sê op Basis-Diff se webblad die regering kan ’n ramptoestand afkondig vir die Vrystaat. “Alle versuip nou en behalwe vir dié skade het ons winter-temperature en niks groei nie. Ons kort son en hitte-eenhede vir foto-sintese in die plante. Daar is te veel wolkbedekking met te min son.”