
Die sakesektor in die landbou was vanjaar ondanks groot politieke druk en beleidsonsekerheid “verrassend optimisties”.
Dr. John Purchase, hoof- uitvoerende beampte van die landbou-sakekamer Agbiz, en me. Lindie Stroebel, bestuurder van sake-inligting, sê in ’n gesamentlike verklaring die landbousakevertroue was vanjaar hoër as in ander sektore van die ekonomie.
Dit is in die hoër bruto binnelandse produk (BBP) van die sektor weerspieël.
Purchase en Stroebel sê Suid-Afrika se BBP kan aanstaande jaar met 2,5% groei, mits die arbeidsmark nie weer so onstuimig is nie en die internasionale olieprys laag bly.
Die verwagte groei is minder as die groei van 3,8% wat die Internasionale Monetêre Fonds van die globale ekonomie verwag.
Hulle sê die Regering behoort aandag te gee aan strukturele probleme omdat die land eintlik teen 6% moet groei om uitdagings, soos werkloosheid, te kan pak. Oor die vooruitsigte vir landboubesighede sê Purchase en Stroebel die risiko’s van landbouprodukte se wisselvallige pryse bly ’n belangrike faktor wat versigtige en vaardige bestuur vereis.
“Globale graanproduksie het verseker dat voorraadvlakke betreklik hoog is. Die neiging van laer pryse sal na verwagting op huidige vlakke stabiliseeren vir die volgende paar jaar so voortduur. Die produksie van sojabone en sonneblomme bied tans beter marges as mielies omdat huidige oliesaadprysvlakke en ’n voortgesette goeie vraag geleenthede bied.”
Stroebel en Purchase sê die vooruitsigte vir die rooivleis- en braaihoenderbedryf lyk gunstig vir 2015 en die onmiddellike tydperk daarna. Pryse sal na verwagting matig bly styg en die bedrywe sal voordeel trek uit ’n hoër vleis tot mielieprysverhouding.
Die vooruitsigte vir die vrugte- en groentebedryf lyk ook goed, behalwe vir kommer oor sitrusuitvoer na die Europese Unie.
Groeiende markte in die Middeen Verre-Ooste, Rusland en Afrika bied egter ander geleenthede.