‘n Daling van 5% in die landbouvertroue-indeks van die Landboubesigheidskamer (LBK) is in die derde kwartaal aangeteken, vergeleke met die tweede kwartaal.
Luidens ‘n verslag van die LBK is die jongste syfer wel 53% hoër as die syfer van die derde kwartaal van 2009, toe dié laagste syfer nog aangeteken is.
Me. Lindie Stroebel, die bestuurder van ekonomiese intelligensie by die LBK, sê dié daling is kommerwekkend en plaas ‘n demper op die groot jaar-op-jaar styging.
Volgens die indeks het agt uit die 10 subindekse waarvolgens die indeks bepaal word, op ‘n kwartaal-tot-kwartaal-basis dalings aangeteken. Wat die jaar-op-jaar-syfers aanbetref, is dalings in slegs drie subindekse aangeteken.
Die omset van landbou-ondernemings het op die kort- en langtermyn toegeneem. Die styging kan aan die groter hoeveelhede graan wat geproduseer is, toegeskryf word. Ondernemings in die Oos-, Suid- en Wes-Kaap se omset is wel onder druk, veral weens die droogtes in dié gebiede.
Kontantvloei daal ook
‘n Kwartaal-tot-kwartaal daling is ook ten opsigte van kontantvloei by landbou-ondernemings aangeteken. ‘n Groot rede hiervoor is die lae kommoditeitspryse wat nie met produksiekoste ooreenkom nie.
Volgens Statistieke SA het die produksieprysindeks vir Julie met 1,3% teenoor Junie se syfer gedaal. Die koste van produksie het egter nie in ooreenstemming gedaal nie, wat beteken boere en gevolglik ondernemings se kontantvloei is onder druk.
Volgens Stroebel plaas die swakker waarde van die euro tans druk op die verdienste van die uitvoermarkte, veral dié wat na die Europese Unie uitvoer. Sy meen langermyn-ingryping is nodig om die uitvoerbedryf te stimuleer.
Volgens die LBK is dit tans, meer as ooit tevore, belangrik om die koste verbonde aan produksie en handel so laag as moontlik te hou.
8 September 2010