
Die klagte ingevolge artikel 51(1)(a) en artikel 27(18) van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne volg ná die onthullings oor die toestand van die nasionale monumente by dié kollege.
Mnr. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê die voortdurende verval van geriewe, geboue en administrasie is al vir langer as ’n dekade ’n probleem. “Dit is ’n simptoom van die wanbestuur wat heers by die Landboukollege Potchefstroom. Saai doen dus ’n beroep op die Noordwes departement van Landbou om die bestuur van die kollege in bekwame hande te plaas.”
Die strafregtelike klagte is slegs een van vele stappe wat Saai om die bestuur aanspreeklik te hou en verandering by die kollege teweeg te bring.
Saai het ook die Landboukollege Potchefstroom Alumni-vereniging, bestaande uit oudstudente van die kollege wat besorg is oor die toestand van die kollege se opleiding en infrastruktuur, op die been gebring.
“Die instansie was eens ’n baken van uitnemendheid in die landbougemeenskap. Ons as alumni wil dit graag herstel tot die trotse instansie wat dit was en weer kan wees,” sê mnr. Boy Saaiman, stigter van die vereniging.
Oudstudente van die kollege kan by die alumni-vereniging aansluit by www.pampoenboere.org.