
Me. Tiffany Adams, ’n oplossingsontleder in Johannesburg wat onlangs haar meestersgraad in logistieke bestuur aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het, sê die moratorium kan tot 30 Junie 2021 verleng word, maar die regering moet dit nog bevestig. Dit kan ’n verlammende uitwerking op die Suid-Afrikaanse ekonomie hê as die moratorium nie verleng word nie. “Baie nasionale en internasionale kliënte sal nie hul produkte ontvang as dit onwettig word om goedere in hoë kubusvraghouers te vervoer nie.”
Adams se studie het spesifiek op die vrugtebedryf gekonsentreer. Sy sê 90% van die vrugte wat in Suid-Afrika verbou word, word met verkoelde vraghouers na internasionale markte uitgevoer. “Volgens Vrugte Suid-Afrika sal die bedryf ’n prysverhoging in vervoerkoste beleef as die wetgewing nie aangepas word, veral weens die seisoenale produksie en die vloei van uitvoervolumes.”
Sy wys daarop dat regulasie 224(b) van die Nasionale Padverkeerswet (Wet 93 van 1996) bepaal dat die maksimum wettige hoogtebeperking vir voertuie sonder ’n permit vir ’n abnormale vrag 4,3 m is.
“Die probleem is dat ’n vraghouer met ’n hoogte van 2,9 m wat op ’n platbak-sleepwa met ’n dekhoogte van 1,6 m staan, 4,5 m hoog is en dus die wettige perk van 4,3 m oorskry. Omdat hoë kubusvraghouers op gewone sleepwaens die wettige perk oorskry, is ’n moratorium in 2011 uitgereik om sulke vragte vry te stel van die voldoening aan die voorwaarde van die regulasie.”
Vir haar studie het Adams gesprekke met verskeie staatsamptenare en belanghebbendes in die vrugte-, verskepings-, padvervoer- en spoorvervoerbedryf gevoer. Sy het bevind die meeste respondente is bekommerd oor die finansiële uitwerking op die vrugtebedryf en die land se ekonomie as die perk op 4,3 m sou bly.
“Vervoermaatskappye sal hul sleepwaens moet vervang om aan die nuwe wetgewing te voldoen, met een sleepwa wat sowat R300 000 kos. Die vrugtebedryf sal die las van R27 miljoen moet dra om die sleepwaens na die hoogte van 1,4 m te verlaag. Die vrugtebedryf se produktiwiteit, doeltreffendheid, produkvloei en winsgewendheid sal merkbaar daal.”
Sy sê die respondente het ook aangedui dat daar nog geen ongelukke of voorvalle met die vervoer van hoë kubusvraghouers aangeteken is nie.
Volgens Adams is hoë kubusvraghouers wêreldwyd die norm en baie lande het hul wetgewing aangepas om die vervoer van hierdie vraghouers moontlik te maak.
Sy stel voor dat die moratorium vir ’n verdere tien jaar verleng moet word sodat die departement van vervoer ’n studie oor die veiligheid van die vervoer van hoë kubusvraghouers kan doen, ondersoek na die huidige wetgewing en verrigtinggebaseerde standaarde-ontwerpprojekte (PBS) kan instel en die PBS-beleid kan definieer en toepas.
“Die verlenging van die moratorium sal ook tyd toelaat vir ’n geleidelike infasering van enige nuwe toerusting en infrastruktuur wat aan die PBS-standaarde moet voldoen.”