
Dr. Jack Armour, handelsbestuurder van Vrystaat Landbou, meen die openbare skouspelle waartydens politiese uitlatings van transformasie en werkskepping gebruik is om skares op te sweep, maak geen verskil vir die gewone man op straat of landbou in die Vrystaat nie.
“Vrystaat Landbou en die gemeenskap van die Vrystaat bly teleurgesteld oor werklike vordering van die staat se kant af om die massiewe vervoerprobleme op te los, veral in die landelike gebiede en op grondpaaie.”
Hy voeg by dat vervoerwerkersunies die ekonomie erg ontwrig het deur bydrywighede by hawens en die spoornetwerk tot stilstand te dwing ter wille van buitensporige eise vir loonverhogings. “Vervoermaand is basies verby en daar is geen daadwerklike verskil aan ons padinfrastruktuur te bespeur nie.”
Mnr. Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, sê oorlaaide en gevaarlike vragmotors met mangaan-erts rig enorme skade aan paaie aan. Die grootskaalse plundering en ineenstorting van die spoorvervoernetwerk moet ook dringend aangepak word.
“Vrystaat Landbou wag steeds dat dringende vrae uit ons voorlegging aan die Vrystaatse regering se uitvoerende komitee in Mei vanjaar verwys word aan die ekonomiese groepering om beantwoord te word.”
Vrystaat Landbou se vrae is onder meer die volgende:
1. Hoeveel padskrapers is nodig vir die onderhoud van grondpaaie, hoeveel besit die departement van vervoer en hoeveel van dié is in ’n goeie, werkende toestand?
2. Vir die hoeveelheid padskrapers benodig, hoeveel opgeleide padskraper-operateurs is tans in die diens van die departement, en waar daar wel ’n tekort is, wat word gedoen om nuwe padskraper-operateurs op te lei en in diens te neem?
3. Wat word gedoen om die personeelstruktuur aan te pas om die massiewe agterstand van algemene werkers wat in diens van die departement behoort in diens te wees, aan te stel om dringende padonderhoud te doen, soos padduikers (culverts) en waterbane skoon en oop te hou om water weg van die paaie te herlei?
Volgens Armour is daar moontlik een straaltjie hoop uit Vervoermaand danksy Sanral se toepassing wat doeltreffend ingespan kon word om die omvang van teerpadskade uit te wys en voortaan vir die prioritisering van projekte gebruik kan word.
“Vrystaat Landbou se huidige strategie vir die paaie is om al die slaggate op ons teerpaaie herhaaldelik op die Sanral-toepassing te laat laai deur ons grondvlakstrukture. Ons moedig ook enige padgebruiker aan om die toepassing af te laai en ons te help om die slaggate en stukkende padskouers daarop te laai. Die paaie waar die meeste slaggate aangewys word, word geprioritiseer.
“Waar Sanral nie beheer het oor die provinsiale of munisipale pad nie, word die inligting aan die nodige vlak van regering deurgestuur met bewyse. Waar die provinsiale of munisipale strukture nie om binne ’n redelike tyd aandag gee aan die paaie nie, kan daar deur ’n presidensiële mandaat die taak en geld vanaf tesourie aan Sanral met sy beproefde rekord gegee word om die paaie ordentlik reg te maak.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.