
Volgens ’n verklaring van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling is die verbod op die vervoer van wild van vee daarop gemik om die moontlike verspreiding van bek-en-klouseer uit die gebied te voorkom.
“ ’n Span amptenare ondersoek die omvang van die uitbreking, en die bevindings sal verdere beheermaatreëls bepaal. Die verbod sal binne twee weke hersien word op grond van verdere siekte-ondersoeke.”
Tans word die distriksmunisipaliteite Koning Cetshwayo en Umkhanyakude, en die plaaslike munisipaliteite van Nongoma, Ulundi en Pongola geraak.
Die landboudepartement het boere in hierdie gebiede versoek om die verbod te gehoorsaam, en boere aangrensend aan hierdie gebiede word gemaan om bioveiligheidsmaatreëls in stand te hou. Sulke maatreëls sluit in dat geen nuwe diere in hul kuddes toegelaat word nie en dat die vervoer van diere na ander plase tot die minimum beperk word.
Mnr. Peter-John Hassard, voorsitter van Kwanalu, ondervoorsitter van die KZN Rooivleisprodusente-organisasie, en self ’n vleisboer in die gebied waarin beweging beperk word, het gesê hy en ander vee- en wildboere gaan finansiële verliese ly vanweë die verbod. “Ek kan byvoorbeeld nou nie my diere buite ons omgewing verkoop voordat die verbod opgehef is nie. Ook kopers buite ons omgewing sal negatief hierdeur geraak word.”
Hy het egter die regerings se veeartsenykundige amptenare geprys vir hul vinnige identifikasie van bek-en-klouseer in die Mtubatuba-omgewing en hul reaksie op die bevestigde diagnose.
Die voorsitter van die RPO in KwaZulu-Natal, mnr. Angus Williamson, het gesê dat hy “volle vertroue” in die landboudepartement het om nie toe te laat dat “hierdie gevreesde siekte” na ander gebiede versprei nie. “Dit is ook belangrik dat vee-eienaars al die protokolle wat deur die departement uiteengesit word, nakom.”