’n Studie deur AfriForum toon daar is ernstige tekortkominge in minstens sekere provinsies met die inhegtenisneming en vervolging van beskuldigdes in moordsake op plase en kleinhoewes.
Die burgerregte-organisasie het na die kenmerke van plaasmoorde en plaasaanvalle van 2016 tot 2021 gekyk. In dié tyd is 364 plaasmoorde geverifieer. Van 2016 tot 2020 is gemiddeld 47% van die aanvallers in hegtenis geneem en gemiddeld slegs 33% van hulle is skuldig bevind.
Luidens die verslag is dit moeilik om plaasmoorde regstreeks met alle moorde te vergelyk omdat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) sy data anders saamstel, byvoorbeeld per boekjaar, teenoor AfriForum se kalenderjaar.