
Grondwetlike regte is nie so gewaarborg as wat 'n mens sou dink nie, sê 'n kenner.
Prof. Koos Malan van die departement publiekreg aan die Universiteit van Pretoria se fakulteit regsgeleerdheid het by die TLU SA-jaarkongres gesê die beslissende faktor is nie die bewoording van die regte nie, maar eerder “wat die vertolkers daarvan sê, wie die vertolkers is, en wat hul oortuigings is”.
Volgens Malan skep die Grondwet en Handves van Menseregte “die indruk van gerusstelling” maar wat as gewaarborgde regte bestempel word, word nie na behore gewaarborg nie.
Ongeëwenaarde propaganda-aanslag
“Sedert 1994, toe die interim-grondwet in werking getree het, is ons blootgestel – en ek gebruik hierdie harde woorde – aan 'n ongeëwenaarde propaganda-aanslag, om as ’t ware 'n vorm van afgodediens en bygeloof – ek weet dis harde woorde, maar ek het hieroor gedink, ek gebruik dit oorwoë – amper te skep dat jy inderdaad die Grondwet as gewaarborgde instelling kan vertrou.”
Malan sê die regte in die Grondwet kry egter eers werklike betekenis wanneer dit vertolk en toegepas word, en betekenisse kan mettertyd verander.
Dit is dus nie die reg wat die oppergesag het nie, maar volgens Malan eerder die interpreteerders.
Ingrypende veranderinge
Terwyl mense soos hy en kongresgangers sou dink die doel van die Grondwet en Handves van Menseregte is om stabiliteit, gerustheid en voorspelbaarheid te bring, is daar ander wat dink dit is juis bedoel om ingrypende veranderinge teweeg te bring.
Uitsprake van die Grondwethof wys verder “dit is min of meer voorspelbaar dat die Regering 'n beslissing tot sy voordeel sal kry”.
Wat boere te doen staan
Malan sê 'n individu is swak, maar instellings is sterk. Hy het boere aangemoedig om by die TLU SA aan te sluit, en laasgenoemde om met ander instellings saam te werk. “Alle instellings wat in die ekonomie betrokke is, moet hande vat, dan is hulle veel sterker.”
Malan sê Suid-Afrika is in 'n groeiende krisis en hy verwag 'n aanslag op eiendomsreg. Boere het egter al etlike eeue lank ernstige krisisse te bowe gekom, en “dit kan weer gedoen word”.