Verwarring heers oor Gautengse tolhektariewe, met die registrasieproses vir elektroniese skyfies oftewel “e-tags” wat geopen is.
Die Nasionale Padagentskap, Sanral, het vroeër aangekondig dat die tolhekke in Februarie 2012 in werking sal tree, maar die Departement van Vervoer het gesê nóg konsultasie moet plaasvind oor tariewe.
Luidens ‘n vroeëre berig in Engineering News het mnr. Tiyani Rikhotso, hoofdirekteur van belanghebbende skakeling in die Minister van Vervoer se kantoor, gesê nóg konsultasie is nodig voordat die toltariewe vasgestel word. “Ons verstaan dat Sanral ‘n spertyd vasgestel het, maar kom ons laat mense toe om hulle standpunte te stel.”
Volgens dié berig vind die eerste van dié sessies Vrydag, 11 November 2011, plaas.
Rikhotso het egter aan Landbou.com gesê dat die eerste fase van die toltariewe – wat vir Februarie 2012 geskeduleer is – sal voortgaan. “Die konsultasie sal slegs fokus op die tweede fase van die projek.”
Registrasie vir die skyfies
Intussen sê Engineering News Sanral het Maandag (7 November 2011) die proses vir registrasie vir die skyfies amptelik geopen, en padgebruikers aangemoedig om daarvoor te registreer. Mnr. Alex van Niekerk, projekbestuurder, sê hy verwag dat registrasie aanvanklik baie stadig sal plaasvind weens die verwarring wat tans heers.
Volgens Van Niekerk het Sanral vroeër aangedui dat die proses in Februarie 2012 sal voortgaan, maar ‘n finale besluit sal nou deur mnr. S’bu Ndebele, Minister van Vervoer, gemaak word.
Van Niekerk sê die “e-tag” pakkette sal by Checkers, Pick n Pay en Shoprite, asook by e-tolpad-winkels wat regoor die provinsie geopen is, beskikbaar wees.
Padgebruikers van buite Gauteng
Wat registrasie vir mense wat buite die provinsie bly, maar steeds van die tolroetes gebruik gaan maak betref, wag Landbou.com nog op antwoorde van die departement van vervoer asook Sanral.
Padgebruikers word aangemoedig om te registreer vir die “e-tag” wat met die gebruiker se voertuignommerplaat verbind is. Sodoende sal die gebruiker vir afslag van 31% in aanmreking kom. Dié wat besluit om net hulle nommerplate te registreer sal slegs vir afslag vir die tyd van die dag wat die pad gebruik word, kwalifiseer.
Besoek Sanral se webtuiste, www.sanral.co.za vir meer inligting, of kontak hom by 0800 726725.
Bron: Engineering News
Bron: Engineering News
9 November 2011