’n Beweerde vingerfout het glo ingesluip met die publikasie van die minimum loon vir plaaswerkers, wat groot verwarring veroorsaak, sê Agri SA.
Die Departement van Arbeid het in die Staatskoerant van 18 Januarie 2012 afgekondig dat die minimum loon wat op 1 Maart vanjaar van krag word, R374, 10 per week is.
Dié bedrag moet egter R347,10 wees, sê me. Elize van der Westhuizen, bestuurder van menslike hulpbronne by Agri SA. Sy sê die departement het onlangs die basis vir die bepaling van minimum lone vir plaaswerkers vir die volgende drie jaar bekend gemaak.
Dié fout is reeds met die departement bespreek en Van der Westhuizen sê hulle gaan ’n brief aan me. Mildred Oliphant, Minister van Arbeid, rig om te vra dat dit in die Staatskoerant reggestel moet word.
Ander vrae
Van der Westhuizen sê hulle gaan ook vrae oor die bepaling van die verhoging van 9,3% vir plaaswerkerlone vir die jaar aan die minister rig.
Die verhoging vir dié jaar is op 9,3% bereken, en verskeie vrae bestaan oor die metode en data wat gebruik is om die basis vir verhogings vir die volgende drie jaar te bepaal. Van der Westhuizen sê die verhoging is gegrond op Oktober verlede jaar se VPI-koers vir die laagste kwintiel van die bevolking, naamlik 7,8%, plus 1,5 persentasiepunte vir voedselinflasie.
“Ons wil graag weet hoekom Oktober 2011 se data gebruik is. Die afgelope ses jaar is November se data gebruik, want die departement se bepalings sê die data van die maand wat ses weke voor die instelling van die verhoging bekend is, moet gebruik word,” sê Van der Westhuizen. Verder is ’n ekstra 0,5% vir voedselinflasie ingereken, waar die voedselinflasiesyfer vroeër op 1%, en nie 1,5% nie, vasgestel is.
“Dit wil vir ons voorkom of daar ’n ‘cherry pic’ gedoen is oor die VPI-syfers, en ons wil weet watter proses gevolg is om dié persentasie te bepaal en hoe dit vir die volgende drie jaar bepaal gaan word. Geen boer kan begroot as hy nie weet watter data gebruik gaan word nie,” aldus Van der Westhuizen.
3 Februarie 2012