Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het geen kommentaar oor ‘n stelling oor vloedhulp wat minister Tina Joemat-Petersson sou gemaak het nie.
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, sê hy het onlangs met die minister gepraat: “Sy’t gesê haar finale antwoord is daar sal géén hulp vir kommersiële boere wees nie, nét opkomende boere sal gehelp word.”
Mnr. Selby Bokaba, die minister se woordvoerder, sê hy kan slegs amptelik op dié stelling antwoord en het verwys na dit wat in die departement se voorgestelde beleidskodument staan: “Die skema sal bystand gee aan boere en plaaswerkers wat daarvoor kwalifiseer, vir skade aan landbou-infrastruktuur, die restorasie van landerye en die rehabilitasie van grond deur diensteverskaffers wat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye sal aanwys.”
Geraakte boere
Bokaba sê hy kan nie aandui of kommersiële boere van dié hulp uitgesluit word nie, aangesien die dokument nie na kommersiële en opkomende boere verwys nie. Hy sê die dokument dui aan dat ondersteuning aan geraakte boere en ander groepe gegee sou kan word om byvoorbeeld infrastruktuur te herstel.
Intussen sê Bokaba die waardebepalingsproses vir die skade wat in die Noord-Kaap en ander gebiede aangerig is, is reeds onderweg. “Vier diensteverskaffers wat deur die departement aangestel is om waardebepalings te doen, het in die tweede week van Mei met hulle werk begin. Hulle is ‘n tydperk van twee maande gegun om dié werk af te handel.”
Sodra die waardebepalings afgehandel is, sal dit na die betrokke provinsiale regerings en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye asook die georganiseerde landbou gestuur word. Volgens Bokaba is die provinsiale regerings en die georganiseerde landbou reeds in kennis gestel dat die waardebepalings onderweg is.
Möller sê hulle het tans baie vrae oor die fondse wat op verskillende staatsvlakke vroeër die jaar vir vloedhulp beskikbaar gestel is. Pres. Jacob Zuma het tydens sy staatsrede aangekondig dat ‘n bedrag van R800 miljoen as vloedhulp beskikbaar gestel sal word. Mnr. Pravin Gordhan, die Minister van Finansies, het tydens sy begrotingsrede R600 miljoen as vloedhulp beskikbaar gestel, en Joemat-Petersson het tydens haar begrotingsrede aangekondig dat haar departement R200 miljoen vir dié doel beskikbaar gaan stel.
31 Mei 2011