Me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, maak beloftes aan boere wat sy nie nakom nie, kritiseer die Vryheidsfront Plus.
Luidens ’n verklaring het mnr. Pieter Groenewald, die party se woordvoerder vir landbou, Dinsdag (19 April) in die parlement gesê hy het aanvanklik gedink die minister “was ’n nuwe briesie wat waai in teenstelling met haar voorganger (me. Lulu Xingwana)”.
“Tina Promises”
“Verlede jaar by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) het sy die boere beloof sy sal subsidies vir hulle betaal vir die hoë elektrisiteitstariewe. Daar het egter niks van gekom nie."
"Elektrisiteit het nou met 26% verhoog en die boere kan dit nie bekostig nie. Boere is afhanklik van elektrisiteit, veral die melkboere en besproeiingsboere. Wat het van hierdie belofte geword, agbare minister?”
Groenewald het die Minister ook gekritiseer omdat sy nie, soos beloof, vroeër die jaar boere wat deur vloede in Christiana getref is, besoek het nie. Die boere het nadat hulle twee uur gewag het, verdaag.
“Ek wil vir die minister sê in die vorige bedeling was daar ’n minister Piet Koornhof wat bekend gestaan het as ‘Piet Promises’, want hy het ook alles belowe, maar niks het daarvan gekom nie. Lyk my in die nuwe bedeling het ons nou weer só ’n minister, nl. ‘Tina Promises’”.
Behuising
Groenewald sê hulle wil ook weet hoekom daar van boere verwag word om aan hul werkers behuising te verskaf terwyl die Regering dit nie ook van ander nywerhede vereis nie.
Hy verwelkom Joemat-Pettersson se gesprek met haar kollega, die Minister van Polisie, oor plaasveiligheid, hoewel hy meen die landelike beveiligingsplan word nie in die praktyk toegepas nie.
“Ek het nie gehoor dat die minister met haar kollega, die Minister van Handel en Nywerheid, oor die beskerming van die boere teen invoertariewe praat nie. Dit is van uiterste belang en die boere moet beskerm word teen invoere, want ander lande se regerings subsidieer hul boere en ons boere kan nie met hulle meeding nie,” aldus Groenewald.
20 April 2011