Vier mense, insluitend ’n voormalige hoof van die Land Bank, is aangekeer in verband met die wanadministrasie van geld wat vir opkomende boere bedoel was.
Luidens ’n berig in Volksblad (2 Maart) het die Polisie se ondersoekeenheid die Valke na bewering mnre. Phil Mohlahlane, die afgedankte waarnemende hoof van die bank, Dan Mofokeng, ’n voormalige LUR van behuising in Gauteng, en Matuba Maponya, ’n prokureur van Polokwane, Dinsdag (1 Maart) op aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery in hegtenis geneem.
Mnr. Khutso Mosoma, ’n bestuurder van die SEB-fonds by die Land Bank, het homself by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria gaan oorgee. Die groep het glo die geld gebruik om duur huise en voertuie te koop.
R100 miljoen
Kol. McIntosh Polela, woordvoerder van die Valke, sê die inhegtenisnames volg op ’n ondersoek waarmee in 2008 reeds begin is.
PriceWaterHouseCoopers het ’n forensiese ondersoek by die bank gedoen en ongerymdhede van R100 miljoen gevind.
Van dié geld is R14 miljoen glo vir die aankoop van duur voertuie en huise gebruik. Mohlahlane het na bewering R6,4 miljoen gebruik om vir sy skoonsuster ’n plaas in Limpopo te koop.
Die vier verskyn vandag in die handelshof in Pretoria.
Bron: Volksblad
2 Maart 2011