
Vinpro is bekommerd “dat die hof agteroor gebuig het om die regeringsrespondente te akkommodeer” in sy hofsaak teen die regering oor die grondwetlikheid al dan nie van ’n drankverbod tydens die grendelstaat.
Die liggaam het sy teleurstelling uitgespreek met die bevinding van die Kaapse hooggeregshof dat die gesag oor drankhandel eerder by die nasionale regering as provinsies hoort. Die uitspraak beteken die regering kan in die toekoms wéér ’n landwye drankverbod instel, iets wat veral gevrees word met die vierde vlaag van die covid-19-pandemie wat tans in Suid-Afrika woed.
“Die hof het nie duidelikheid gegee oor belangrike kwessies wat deur Vinpro geopper is nie, veral ten opsigte van die regering se bot benadering tot die hantering van inperkings, pleks van ’n flink, meer provinsiale benadering,” lui ’n verklaring deur Vinpro nadat die bedryfsliggaam die regering se benadering ten opsigte van beperkings op drankhandel binne die Wet op Rampbestuur (Wet 57 van 2002) betwis het. Die saak is op 23 tot 25 Augustus aangehoor en uitspraak is op 6 Desember gelewer.
Oorweeg appèl
Vinpro oorweeg om verlof tot appèl te kry teen die uitspraak. Aanvanklike regsadvies dui egter dat hy nie veel sal bereik nie, aangesien die appèl waarskynlik eers laat volgende jaar aangehoor sal word.
“Vinpro behou egter die reg voor om die hof weer op ’n dringende basis te nader indien dit nodig geag word.”
Die volbank regters het Vinpro gekritiseer oor die tydsberekening van sy hofsaansoeke, aangesien die verbod op daardie tydstip gedeeltelik opgehef was. Hieroor sê mnr. Rico Basson, bestuurshoof van Vinpro, Vinpro het altyd sy aansoeke en hofstukke betyds en op dringende basis ingedien.
“Ons het geen beheer gehad oor wanneer die aansoeke aangehoor sou word nie. Ons was uitgelewer aan die genade van ’n regsproses waaroor ons geen beheer gehad het nie. Die hof het die verhoordatums herhaaldelik eensydig uitgestel of uitspraak voorbehou tot nadat die beperkings op drankverkope opgehef is.”
Volgens die liggaam het die hof gefouteer in sy bevinding dat Vinpro toegegee het dat die tydelike vermindering in die gebruik van drankprodukte wel die gesondheidsorgstelsel beskerm.
“Vinpro het juis beklemtoon dit bly die regering se verantwoordelikheid om kapasiteit in gesondheidsorg te skep en meer doelgerigte ingrypings gebruik om die impak op lewens en lewensbestaan te verminder.”
Basson sê die “regering se bot benadering, onbereidwilligheid om te konsulteer en tekort aan deursigtigheid rondom die empiriese data waarop die regering sy besluitneming skou skoei, het die wyn- en toerismebedryf onherroeplike skade berokken”.
Meer as R10 miljard se inkomste en ’n groot aantal werkgeleenthede is verlore weens die verbod. Die bedryf se reputasie in die buiteland het ook skade gely.
“Die enigste manier vir wynverwante besighede om te herstel en te herbou, is deurdat ’n omgewing vir volhoubare groei geskep word. Dit sluit regeringsbeleid in wat op deeglike en deursigtige empiriese data gegrond is, konsekwent deurgevoer word en streng toegepas word.”
Hy beklemtoon dat die wynbedryf met verskeie belanghebbendes saamwerk om die regering te help om ingeligte besluite oor drankhandel te neem. Wynbesighede tref ook al die nodige maatreëls om mense veilig te hou.