
Gesprekke tussen die twee maatskappye het reeds in Julie 2020 afgeskop, waarna GWK se aandeelhouers op 11 Augustus 2022 ten gunste van die samesmelting gestem het en VKB se direksie die transaksie vroeër gedurende 2022 binne hul mandaat goedgekeur het.
Die samestelling en ontwerp van die transaksie is gedryf deur verteenwoordigers van GWK en VKB, in samewerking met ’n eksterne, onafhanklike korporatiewe adviseur, Pallidus, om ’n ooreenkoms saam te stel wat verseker dat albei partye beskerm en bevoordeel word.
Luidens ’n gesamentlike verklaring het die verteenwoordigers van GWK en VKB krities gaan kyk na verskeie aspekte, onder meer sinergieë in terme van maatskappykultuur en -struktuur, ’n gedeelde visie om landbou verder te bevorder, die behoud van ’n besigheid in boerebesit en die voortsetting van gehalte ondersteuning aan produsente op plase.
Finale goedkeuring
Dr. PG Strauss, besturende direkteur van die VKB-groep, sê dit is goeie nuus dat die Mededingingstribunaal die samesmelting tussen VKB en GWK goedgekeur het. “Die onderskeie bestuurspanne van VKB en GWK sal vergader rakende die volgende stappe en proses vorentoe sodra aan alle uitstaande opskortende voorwaardes rakende die transaksie voldoen is, ingesluit finale goedkeuring deur die Oorname Reguleringspaneel, waarna verdere kommunikasie met kliënte, personeel, aandeelhouers en ander belanghebbendes sal volg. Intussen gaan albei maatskappye voort soos normaal.”
Mnr. Llewellyn Brooks, besturende direkteur van die GWK-groep, sê dit is ’n groot mylpaal in die geskiedenis van die twee maatskappye wat ná baie werk die afgelope twee jaar behaal is.
“Die transaksie gaan groot geleenthede vir al ons belanghebbendes ontsluit. Ons is opgewonde daaroor dat ons nou kan voortgaan met beplanning om die landboumaatskappy van die toekoms te bou.”
Effek op mededinging
Die mededingingskommissie skryf in sy verklaring oor die goedkeuring dat die voorgestelde transaksie nie mededinging in enige relevante markte sal verhinder of verminder nie. Die twee maatskappye is meestal werksaam in verskillende geografiese gebiede en daarom is direkte mededinging beperk.
Die kommissie het die waarskynlike gevolge van die voorgestelde transaksie op onder meer indiensneming en verspreiding van eienaarskap ondersoek. Die ondersoek het ook gekyk na die vermoë van klein en mediumgroot ondernemings in besit van of beheer deur voorheen benadeelde persone om effektief tot die mark toe te tree, daaraan deel te neem of uit te brei.
“Wat indiensnemingskwessies betref, het die samesmeltende partye ooreengekom om vir ’n tydperk van drie jaar geen werknemers as gevolg van die samesmelting af te lê nie. Ten einde die bevordering van ’n groter verspreiding van eienaarskap te verseker, het die samesmeltende partye ook ooreengekom om te verseker dat alle werkers wat in aanmerking kom, begunstigdes van die VKB Werknemerstrust sal word.”
Daarbenewens sal die samesmeltende partye finansiering verskaf aan voorheen benadeelde persone in die waardeketting en geografiese gebiede waar VKB en GWK bedrywig is. Dít sal ingevolge toepaslike kredietbeleide en relevante wetgewing oor ’n tydperk van 36 maande vanaf die instellingsdatum geskied.
Die kommissie het verder bevind die voorgestelde transaksie sal nie enige negatiewe kwessies van openbare belang raak nie.
Sleutelbeginsels
Die voorgestelde transaksie sluit opsommend die volgende sleutelbeginsels in:
• ’n Kontantbedrag asook ’n finansiële instrument wat deur VKB uitgereik word aan GWK-aandeelhouers om op ’n regverdige grondslag volgens kapitaalwaarde saam met aandeelhouers van VKB belange en stemreg in die gesamentlike onderneming te hê;
• Verteenwoordiging van albei maatskappye se historiese aandeelhouers in die direksie van die gesamentlike onderneming;
• Behoud van albei handelsmerke, asook voortgesette besigheid onder hierdie handelsmerke; en
• ’n Integrasiekomitee met gelyke verteenwoordiging uit die twee groepe sal ingevolge die transaksie die mandaat hê vir oorsig en monitering vna die integrasie van die ondernemings se bedrywighede.