
Hulle het aan Landbouweekblad benadruk dat die gesprek oor toekomstige samewerking nog in ’n vroeë stadium is en daar is nog nie op fyner besonderhede besluit nie.
“Die oorsprong van die gesprek setel in die gemeenskaplike kultuur van VKB en GWK. Hierdie landbou-ondernemings is nog van die min wat uitsluitlik landbouprodusente as aandeelhouers het,” sê Janse van Rensburg en Brooks. “Albei is trotse, outonome besighede wat onafhanklik kan voortbestaan, maar wat moontlik beter sal presteer as op verskillende gebiede saamgewerk word.”
Die onderskeie direksies het nou opdrag gegee dat moontlike sinergie tussen die twee landbou-ondernemings ondersoek moet word. Nadat die ondersoek afgehandel is, sal aan die direksies terugvoer gegee word. “Indien die uitkoms gunstig is, sal die aangeleentheid aan aandeelhouers voorgehou word voordat die Mededingingstribunaal se goedkeuring gevra word.”
Die twee ondernemings het besluit om die term “vennootskappe” te gebruik vir die samewerking wat hulle in gedagte het. “Dit sal in die praktyk eerder gesamentlike ondernemings wees om te kyk of ons op verskillende terreine formeel kan saamwerk om ons waardeproposisie te verhoog.”
Hulle beklemtoon dat die moontlike samewerking ’n voordelige uitkoms moet bied aan VKB en GWK se aandeelhouers en nie tot nadeel van een van die partye kan wees nie. “Omdat ons hier twee goed gevestigde handelsmerke het, is die oogmerk dat albei maatskappye bly voortbestaan. Hier is dus nie ’n oorname van een party deur die ander ter sprake nie.”
Oorhoofse koste
Die twee ondernemings ondersoek nou maniere om oorhoofse koste te deel en daardeur meer voordeel vir hul produsente te skep. “Dan word daar ook gekyk of daar samewerking tussen die twee besighede kan wees om die landbouwaardeketting te optimaliseer, weer eens tot die uiteindelike voordeel van die aandeelhouer-produsente van albei besighede,” sê Brooks en Janse van Rensburg.
Die moontlike sinergie sluit in gedeelde oorhoofse koste en stelsels, hulle ondersoek die skaalvoordele as die twee maatskappye se handelsbedrywighede as ’n eenheid bedryf word en wil ook vasstel of daar ’n beter produkaanbod volg as ’n groter gesamentlike graanvoorraad aan graankopers gebied word. Hulle beklemtoon dat dié voordele bereik kan word sonder om die houermaatskappye saam te voeg.
“Die kern van die twee landbou-ondernemings bestaan uit handelsdienste, graandienste en finansiering. Dit is op hierdie aspekte wat die twee besighede wil saam werk om die beste diens en waarde aan die produsent en die graankopers te lewer,” verduidelik die twee uitvoerende hoofde.
Die VKB-groep doen tans sake in die die Oostelike Hoëveld en Limpopo, terwyl GWK se bedrywighede hoofsaaklik in die Noord-Kaap, Noordwes en Wes-Vrystaat toegespits is. “Die geografiese verspreiding vergroot die nasionale teenwoordigheid wat gesamentlik gedek word, en kan vir die ondernemings voordele inhou as mens kyk na die gesamentlike produkaanbod wat die twee besighede kan lewer,” sê Janse van Rensburg en Brooks.