
Só het mnr. Coenraad Fick, voorsitter van die VKB-direksie, tydens die virtuele bekendmaking van VKB se finansiële resultate vir die boekjaar tot einde Maart gesê. “Ons is bevoorreg om sake te doen in ’n stabiele en veelsydige landbou-gebied met ’n lojale klantebasis wat oor meer as 100 jaar opgebou is.”
Omset het met 35% gestyg van die vorige boekjaar se R12,4 miljard tot R16,8 miljard. Die belangrikste bydrae tot die styging is deur die groep se landbou-afdeling gelewer, waar omset met 42% gestyg het van R10 miljard tot R14,2 miljard. In die landbouverwerkingsafdeling het die omset van R6,1 miljard tot R6,6 miljard gestyg en ’n winsstyging van 9% is aangeteken met ’n voorbelaste wins van R89 miljoen.
Volgens mnr. Markus Mittermaier, finansiële hoof, het bedryfsuitgawes in dieselfde tydperk met 16% gestyg, maar dié hoër as normale styging is weens aansporingsbonusse wat in ’n jaar van goeie prestasie betaal is. Die groep se netto wins het vanjaar ’n rekordvlak van R562 miljoen bereik, waaruit aansporingsbonusse van R330 miljoen aan klante en aandeelhouers betaal is, en R30 miljoen as dividende aan aandeelhouers.
Goeie landboujaar
VKB Landbou is die beherende maatskappy van ’n aantal landbouverwante bedrywighede binne die groep. Dit sluit sy handels-, finansiële en graandienste in, graanbemarking, ’n veilingsentrum by Frankfort, ’n kunsmisaanleg op Villiers, meganisasie, koelkamers en verpakking. Al die ondernemings het in ’n goeie landboujaar stewige resultate gelewer.
Die groep se graanhanteringsdienste in Limpopo en die Noordoos-Vrystaat en het tot 22% meer graan as in die vorige boekjaar ontvang. Tot 680 000 ton van Suid-Afrika se 2,8 miljoen ton uitvoergraan is van VKB afkomstig.
Die groep se beherende maatskappy vir die verwerking van landbouprodukte, VKB Landbouverwerking, is ná ’n paar jaar se wisselvalligheid weer terug op die herstelpad, volgens mnr. Sas Kasselman, besturende direkteur. Gedurende die boekjaar is 705 000 ton se produkte, insluitend wit- en geelmielies, sojabone, koring en hoendervleis by die groep se aanlegte verwerk.
VKB se koring- en mieliemeulens is in dié boekjaar in een maatskappy saamgevoeg wat ’n klein wins gelewer het, met ’n teleurstellende vertoning vir koringmeulens en bakkerye, terwyl die mielie-meulens volgens Kasselman bevredigend gevaar het.
Prysdruk
Grain Field Chickens, die groep se hoender-abattoir wat onder meer bevrore hoenderstukke lewer, se winste het verbeter danksy volumegroei en omdat hoër produkpryse die styging in insetkoste kon temper. Tog het hoër graanpryse winsmarges onder druk geplaas en daar is min beweegruimte vir verdere prysverhogings.
Kasselman waarsku die regering se versuim om nuwe teenstortingstariewe in te stel, kan die hoendermark baie nadelig beïnvloed.
Die prestasie van Free State Oil, die groep se sojapers, het volgens Kasselman verbeter teenoor die vorige jaar, maar die koste van plaaslike teenoor internasionale sojabone het steeds ’n groot invloed op die mark. “As die plaaslike sojaboonprys te hoog is, beïnvloed dit ons persmarge negatief. Die plaaslike en oorsese pryse het vanjaar ooreengestem en ons meulens beter geleenthede gegee om die plaaslike produk te pers, maar ’n oorkapasiteit (aan perse) lei ook tot groot diskonto’s.”
VKB se Q-pro-voeraanlegte op Vrede en Bethlehem het ’n verlies vir die jaar gely weens onder meer arbeidsprobleme vroeg vanjaar en beurtkrag. Die Bethlehem-aanleg se volumes het ook nie na wens gegroei nie. Twee nuwe produksiebestuurders is by die aanlegte aangestel en die installasie van ‘n nuwe lek-aanleg en verkorrelingsmasjien sal die produksievloei van die Bethlehemse fabriek verhoog.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.