Die Lesotho-grens gaan nagegaan word om vas te stel of die bepalinge van die Regering se ooreenkoms met Vrystaat Landbou (VL) nagekom word.
Mnr. Kobus Breytenbach, voorsitter van dié organisasie se wet en orde-komitee, sê opnames sal oor die vordering met veiligheid op die grens gedoen word voor hulle volgende vergadering in November met die komitee, wat die Polisie en Vrystaatse regering insluit.
Hy sê nog net sowat 50% van die pad langs dié grens, wat teen 31 Julie vanjaar klaar geskraap en reggemaak moes wees, is al voltooi. “Die ander dele wat reg is het boere uit hulle eie sakke reggemaak sodat die Polisie die gebied kan probeer patrolleer.”
Volgens Breytenbach gaan VL ook opvolg of die beloofde beamptes ontplooi is, wapens en voertuie beskikbaar is en nasig-toerusting aangeskaf is. Hy sê van die beloofde 15 beheerpunte wat langs die grens opgerig sal word, is vyf reeds opgerig.
Die ooreenkoms
Die ooreenkoms is aangegaan na die VL en die Regering ‘n skikking in ‘n drie jaar lange hofsaak bereik het. Dit het onder andere ingesluit:
1. Doeltreffende polisiëring van die grens deur die staat.
2. Die staat onderneem om die grenspad wat gepatrolleer moet word, op te gradeer en in stand te hou.
3. Die oprigting van ‘n grenslyn van R5,5 miljoen tussen Wepener en Zastron, wat later tot by Clarens kan strek.
Geweld 'raak erger'
Intussen sê Breytenbach die aanvalle wat langs die grens voorkom, neem nie noodwendig toe nie, maar dit raak “meer intens”. Hy sê aanvallers uit Lesotho kom tans nie net oor die grens om te steel nie, maar het deesdae wapens. “As hulle byvoorbeeld gekonfronteer word, sal hulle summier skiet.”
Volgens Breytenbach het nege aanvalle tot dusver die jaar in die provinsie voorgekom, waarvan vier op die grens plaasgevind het. Drie mense is in dié aanvalle vermoor.
In een van die jongste voorvalle is ‘n man deur een van sy eie makkers doodgeskiet. Hulle het glo oor die grens gekom om van hulle vee, wat op ‘n boer se grond rondgeloop het en geskut is, terug te haal. ‘n Skietgeveg het tussen die groep en die boer se sekuriteitswag ontstaan, waartydens die man deur ‘n lid van sy eie groep doodgeskiet is.
26 Oktober 2010