
Die 39-jarige mnr. Douglas Osler van Lone Tree Farms in die distrik Fouriesburg is ’n appelprodusent wat glo in die wedersydse respek tussen mense en om sy werknemers te ondersteun.
Osler, wat die afgelope 17 jaar deel is van ’n familieboerdery waarin hy ’n 25%-aandele besit, glo dat probleme en terugslae as leerkurwe dien en dat dit ook bydra tot die ervaring wat hy as ’n unieke beroepskeuse beskryf.
Hy is hoofsaaklik verantwoordelik vir die appelproduksie en -pakhuis van Lone Tree Farms. Benewens sy betrokkenheid by die georganiseerde landbou as lid van die Fouriesburg-landbouvereniging is Osler ook voorsitter van Hoëveldse Vrugteprodusente en dien hy as direkteur in die produsenteraad van Hortgro Pome.
Dié pa van twee dogters het met sy aanwysing ’n kontantprys van VL gewen, asook geskenkbewyse van Kynoch en Brand New SA. Hy dring outomaties deur tot die eindronde van Toyota SA en Agri SA se Jongboer van die Jaar-kompetisie.