
“Om vir tien uur per dag nie krag te hê nie, laat eenvoudig nie genoeg ure oor om met die huidige ontwerp van besproeiingstelsels genoegsame water toe te dien om ’n gewas groot te maak nie. Dit is boonop gedurende Desember, Januarie en Februarie besonder warm en die mielies groei vinnig.”
Eskom het Dinsdag 6 Desember aangekondig dat vlak 6-beurtkrag landwyd toegepas moet word nadat agt eenhede by sewe kragsentrales onklaar geraak het en tot die verlies van sowat 19 052 MW krag gelei het.
Beurtkrag veroorsaak volgens Jansen verder groot probleme met die toediening van kunsmis en onkruiddoders. “Die onderbrekings veroorsaak oordosering wanneer die pype leegloop en onderdosering wanneer die spilpunte weer aan die gang kom. Twee of drie kragonderbrekings kan voorkom voor een siklus van ’n spilpunt voltooi word.”
Hy sê beurtkrag veroorsaak probleme vir die Benede-Oranjerivier-gebied waar boere besig is om druiwe vir die uitvoermark te pluk en te pak. “In hierdie hitte is dit noodsaaklik om die koueketting te handhaaf ten einde ’n gehalteproduk op Europese rakke te kry. Dit is in hierdie stadium onmoontlik.”
Die landbousektor is volgens hom anders as ander sektore omdat dit as gevolg van sikliese produksie meer kwesbaar vir beurtkrag is. “Met alle respek vir ander bedrywe, as jy nie krag het nie, kom jou kliënt wanneer daar wel krag is of ’n kragopwekker ingespan kan word. Die landbousektor is so groot dat dit nie in ’n posisie is om die nodige kapitaalbelegging vir kragopwekking en -opberging te akkommodeer om deur hierdie fase van beurtkrag te kom nie.”
Aangesien daar geen aanduiding is dat dit in die nabye toekoms beter sal gaan nie, meen Jansen dat me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en die res van haar departement sal moet herbesin oor hoe die landbousektor binne die huidige fase van beurtkrag geakkommodeer kan word.
Besproeiingsbedryf en koringoes
“Die besproeiingsbedryf het ’n besonder swak koringoes agter die blad. Die rede hiervoor is nog onduidelik." Jansen sê die provinsie se landelike ekonomie kan ’n verlies van sowat R800 miljoen ly weens die swak koringopbrengs en -gehalte.
“Dié berekening hou verband met ’n verlies aan inkomste op die sowat 50 000 ha besproeiingsgrond in die omgewing van die Vanderkloofdam waarop vanjaar koring verbou is, wat gemiddeld 2,5 t/ha minder as ander jare oplewer.”
Volgens berigte is ’n groot deel van die koringoes afgegradeer tot voergraad weens die klein pitte en lae valgetal.
"Groot verliese is gely. Indien die mielie-oes wat daarop volg weens te min water nie sy volle potensiaal kan bereik nie, sal dit absoluut katastrofies wees.
“Dieselfde geld die Benede-Oranjerivier se tafeldruiwe, rosyntjies en sitrus wat van ’n volgehoue koueketting afhanklik is. Hulle kan weens beurtkrag nie ’n produk met die nodige raklewe vir die Europese mark waarborg nie.”
Volgens hom sal die landbousektor moet kyk na geleenthede om beurtkrag gedurende besige tye soos Januarie en Februarie uit te ruil vir minder besige tye soos April en Mei met ander sektore. “Dit is die tipe van idees wat oorweeg moet word om bepaal hoe ons die landbousektor kan red. Die sektor is siklies van aard en kan nie die vorige dag se verlies vandag opmaak nie.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.