Verbruikers fokus eerstens op hul eie behoeftes rakende vleisaankope, soos gesondheid en smaak, voordat hulle die omgewing in ag neem.
Volgens navorsing wat die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) oor verbruikers se keuses rakende voedsel gedoen het, neem verbruikers eerste hulle gesondheid, dan smaak, dan voedingswaarde en dán omgewings- of dierevriendelikheid in ag.
Me. Hester Vermeulen, een van die betrokke navorsers, sê die meerderheid van verbruikers vertrou boere met die gehalte van die produk wat hulle lewer asook die veiligheid van produkte op winkelrakke. “ ’n Groot deel van verbruikers het vertroue in boere, en sowat 82% van hulle vertrou dat voedsel op winkelrakke veilig is.”
Vermeulen het die afgelope week die uitkomste van die studie aan afgevaardigdes by die Rooivleisprodusente-organisasie se nasionale jaarkongres in Magaliesburg voorgehou. Dié uitkomste fokus spesifiek op verbruikers in die vier hoogste inkomstevlakke.
Maalvleis tenoor steak
Sowat 98% van verbruikers koop maalvleis op ‘n gereelde basis, terwyl 76% gereeld steak aankoop.
“ ’n Interessante feit is dat swart verbruikers aangedui het dat hulle meer gereeld steak koop. Die meeste respondente koop een of twee maal per maand vleis aan. As mens dié feit in ag neem, moet jy onthou dat dit op grootmaat kan wees, en nié net omdat die verbruiker nie gereeld vleis eet nie,” merk Vermeulen op.
Luidens die navorsing koop die meeste verbruikers hulle vleis by Pick n Pay aan, terwyl die plaaslike slaghuis die tweede gewildste bestemming is. Faktore wat in ag geneem word wanneer ‘n verskaffer gekies word is bekostigbaarheid, ligging en gehalte.
“Vir die LSM (inkomstegroepe) nege en 10 (die hoogstes) is vetinhoud en vorige ervarings baie belangrik, terwyl die LSM sewe en agt groepe vervaldatums, gehalte en gesondheid eerste in ag neem,” verduidelik Vermeulen.
Vrylopende of veld-beesvleis
Sowat 38% van die respondente het aangedui dat hulle keuse ook op die feit dat die diere vrylopend of “free range” op die veld aangehou is, fokus.
Vermeulen sê: “Van dié groep verstaan 25% wat die term vrylopend regtig beteken. Interessant genoeg verstaan die vlak sewe en agt LSM’s die konsep die beste.”
Kanker en rooivleis
Intussen het prof. Hettie Schönveldt van die Universiteit van Pretoria gesê dit is nog moeilik die presiese invloed van rooivleis op die voorkoms van kanker te bepaal.
“Die 2007 Wêreldverslag oor Kanker dui aan dat persone wat oorgewig is en die minimum fisiese aktiwiteite doen, meer geneig is om kanker te kry. Jou dieet is ook ‘n faktor, terwyl die verslag sê ‘n sterk verband bestaan tussen die gebruik van verwerkte- en rooivleis en maagkanker. Dit beveel aan dat ‘n persoon sowat 500g rooivleis per week eet.”
Schönveldt beveel aan dat rooivleis vir optimale gesondheid as deel van ‘n gebalanseerde dieet, saam met groente en vrugte, gebruik moet word.
17 September 2010