
“Die interessante stryd wat gevoer word oor die gebruik van woorde soos burger en wors is nie ’n skeiding tussen reg of verkeerd nie en is ook net een stukkie in die legkaart van verbruikerkeuses,” sê me. Marieta Human, konsultant in verbruikerskommunikasie.
“Daar is ook ander stryde om te voer as ’n mens daadwerklik wil aandag gee aan die neiging om meer plantvoedsel en minder diereproteïen te eet.”
Human het op ’n simposium van die vereniging van veevoervervaardigers (Afma) van die faktore bespreek wat verbruikers se persepsies en koopgedrag beïnvloed.
“Plantvoedsel het na my mening beslis ’n rol om te speel, maar sal waarskynlik nie die toneel in Suid-Afrika oorneem nie. Ons moet aan mense keuses gee en hulle inlig oor (ons) etiese gedrag.”
Verbruikers staan voor die dilemma om volgens hul harte of koppe te kies. “Ons is nou in ’n fase van morele ekonomie.” Verbruikers wil weet hoe die dier, waarvan hulle die vleis of suiwelproduk eet, behandel is.
Sy beveel aan dat die bedryf aandag gee aan verbruikers se menings en dit na waarde skat. Navorsing toon 35% van volwassenes in Suid-Afrika wil in die toekoms probeer om meer plantgebaseerde voedsel te eet, maar in hul koopgedrag ry hulle nog wipplank tussen dier- en plantgebaseerde voedsel.
Eerlike bemarking
Verbruikers is dikwels ontnugter deur voedselkategorieë en handelsmerke wat toenemend green washing doen. Dit is wanneer mooi woorde gebruik word om ’n produk te beskryf sodat dit ekologies gesond klink en asof dit goed is vir die planeet, terwyl dit eintlik net wollerige bemarking is.
Human sê ingewikkelde faktore dryf mense se opvattings aan en dié opvattings vorm hul sienings en gedrag.
“As ons besef dat ons ’n onvergelykbare voedsame produk in ’n proteïen het en erken dat daar ook ’n plek in die son is vir plantgebaseerde voedsel, sal ons ’n blink toekoms hê. Ons weet wanneer ons diereproteïen en plantvoedsel saamvoeg, is dit dikwels die beste manier.”
Lig verbruikers in
Uit ’n etiese oogpunt is verbruikers die bekommerdste oor rooivleis en terselfdertyd is hul begrotings onder druk en het hulle ál minder geld vir aankope wat as luukses beskou word.
Vleis is nie vir almal so eenvoudig en maklik om gaar te maak nie en mense het nie genoeg kennis oor hoe om van ’n klein porsie ’n opwindende maaltyd voor te berei nie. Vleis het egter goeie voedingswaarde en laat ’n mens vol voel ná maaltyd.
Human sê daar is heelwat wat die diereproteïenbedryf kan doen om sy produkte te bevorder. Hy kan klem lê op die unieke en soms onsigbare voordele van diereproteïen. Hy kan hom toespits op elemente wat verbruikers gunstig op hul produkte laat reageer, soos tekstuur, smaak, reuk en maaltydkombinasies, en dit saam met gunstige etiek inspan.
Geriefskos ‘onstuitbaar’
’n Voedselneiging wat baie sterk groei, en waaraan die vleisbedryf meer aandag ten opsigte van sy aanbod kan gee, is geriefskos. “Dit is basies onstuitbaar,” sê Human.
Hamburgers en boereworsrolle is van die vleisprodukte wat reeds ’n groot sukses is, en eiers, kaas en melk is juis gewild omdat dit gerieflik is.
Kaas se toekoms lyk blink. “Suksesvolle suiwelhandelsmerke bevorder juis die gerief en veelsydigheid daarvan. Verbruikers beskou kaasmaaltye as opwindend en byderwets, maar is terselfdertyd bekommerd oor die prys.
“Kaas smaak lekker, dis vir almal toeganklik, en werk goed in ‘n kosblik of as peuselhappie. Dis van die voedsaamste kitskos en veral gewild omdat dit ook in klein verpakkings beskikbaar is, Wanneer mense besluit om net plantgebaseerde voedsel te eet, is kaas, saam met melk, dikwels die laaste produkte wat hulle prysgee,” sê Human.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.