
Die Rooivleisbedryfsforum berei hom voor vir ’n hofsaak teen Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP). Die hele waardeketting is by dié regsaksie betrokke, het dr. Pieter Prinsloo, onder-voorsitter van die Rooivleisprodusente-vereniging (RPO), op Afasa se kongres gesê.
“Ons kan nie so voortgaan nie. Dit kom al van 2011 af toe daar nie entstof teen slenkdalkoors beskikbaar was nie en ander entstof nie doeltreffend was nie. Ons was baie geduldig deur die hele transformasieproses, maar nou praat ons met ons regsadviseurs.”
Hy sê in ’n aanbieding voor die portefeuljekomitee vir landbou is byvoorbeeld gemeld dat daar 14 355 eenhede van Brucella Abortus S19 beskikbaar is wat 287 000 dosisse sal lewer. “Ons moet dit in konteks sien. Ons nasionale kudde is nou ongeveer 13,5 miljoen en om ál die verse jaarliks in te ent is daar op enige gegewe tyd sowat ’n miljoen dosisse nodig.
Enigste wat nie saamspeel nie, is OBP
“Moet asseblief nie die bal terug in die boere se baan plaas om doeltreffende inenting te verseker nie. Dit is ’n spanpoging. Daar is ’n baie goeie veeartsenykundige strategie van die departement se kant af in plek. Die enigste rolspeler wat nie saamspeel nie, is OBP.”
Hy sê in die Dieregesondheidsforum is besluit om as ’n voorbeeld van samewerking brusellose saam met alle rolspelers te takel, maar kan dit nie sonder entstof doen nie. “Die verspreiding is ook ’n probleem. Ons kry nie die entstof uit na BKB in Jamestown, Reitz en Bloemfontein byvoorbeeld nie.”
Net voor dit het dr. Emily Mogajane, ’n direkteur van OBP, gesê hoewel daar vroeër ’n probleem met die produksie van Brucella was, is al die vernaamste entstowwe nou beskikbaar. Sy het gewaarsku dat brusellose besig is om deur die land te versprei en mense ook siek kan maak.
Tegnici sit in kantore
“Nóg ’n probleem is dat die Regering al hoe minder dieresiektes beheer en inentings doen. Die dieregesondheidstegnici sit deesdae in kantore pleks daarvan dat hulle inentings doen. Dit word in die hande van boere gelaat om die siektes te bestry.”
’n Siekte waaroor sy bekommerd is, is slenkdalkoors en uitbrekings daarvanword teen Januarie verwag.
Mogajane het gesê toe die verspreiding van entstowwe deur Bayer gedoen is het hulle agtergekom dat daar in afgeleë landelike gebiede nie entstof gelewer is nie. Daar is toe met ’n nuwe verspreidingstrategie begin om seker te maak dat die entstowwe alle boere bereik.