
Beesvleispryse kan vanjaar ’n invloed op verbruikersvoedselinflasie hê, maar dit is nog onseker watter rol die ongewoon baie reën in graanpryse kan speel.
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê in ’n verklaring voedselinflasie kan vanjaar, vergeleke met verlede jaar, matig wees.
Die belangrike syfers plaaslik wat opwaartse risiko’s vir voedselinflasie inhou, is vleispryse.
“Suid-Afrika se beesslagsyfer was in 2021 relatief laer as in 2020. Die voortgesette herbou van die beeskudde sedert die 2016-droogte, tesame met bek-en-klouseer verlede jaar, was onder die faktore wat tot beskeie slagsyfers bygedra het.” Die rigting wat slagbedrywighede vanjaar inslaan, kan vleispryse beïnvloed.
Sihlobo sê ’n verdere belangrike faktor is dat die invoertariewe op hoendervleis wat verlede jaar in werking getree het, die basis raak waarteen vanjaar se syfers vergelyk word.
Faktore in 2021 se inflasie
Statistieke SA se jongste syfers toon dat voedselinflasie in Desember 2021 5,9% was, marginaal laer as die 6% van die vorige maand. Sihlobo sê die produkpryse wat dié effense verstadiging ondersteun het, sluit brood, graankosse en vis in.
In 2021 as geheel was verbruikersvoedselinflasie gemiddeld 6,5%, hoër as 2020 se 4,6%. “Die hoë graan-, groente-olie- en vleispryse die afgelope paar maande was breedweg die hoofaandrywers van verbruikersvoedselprysinflasie in 2021,” sê Sihlobo.
Wêreldpryse speel groter rol
Die oormatige reën in die huidige seisoen hou risiko’s vir landbouproduksie in, maar volgens hom is die oorhoofse uitwerking daarvan op gewaspryse tans onseker. ’n Mens sal eers meer sekerheid hê oor die skaal van ontwrigting, weens vertragings in aanplantings en vloedskade, nadat die oesskattingskomitee op 27 Januarie sy voorlopige someraanplantingsdata bekend gemaak het, asook ná die produksieberamingsdata einde Februarie.
“Ons sal eers dan ’n betroubare siening kan formuleer oor die moontlike grootte van invoer wat nodig gaan wees indien die skade omvangryk is, asook die uitwerking wat dit dan op pryse kan hê.”
Sihlobo sê die stygings in plaaslike landboukommoditeitspryse die afgelope twee jaar is hoofsaaklik deur internasionale pryse ondersteun.
“Die grootte van die plaaslike oes het minder saak gemaak as die oestoestande in Suid-Amerika of die vraag na grane en oliesade in China en Indië, wat die hoofaandrywers van die wêreldmark was.”
Hierdie faktore het opwaartse druk op wêreldpryse van grane en oliesade geplaas.
“Suid-Afrika, ’n relatief klein deelnemer in die internasionale landbou, is aan die wêreldmark verbind. Die algemene styging in wêreldpryse het dus die beter plaaslike oesaanbod in die 2021-’21-produksieseisoen oorskadu.”
Sihlobo sê dié toestande bly die oorheersende eienskap op die internasionale landboumark.
Internasionale graanproduksieskattings in 2021-’22 is betreklik optimisties vergeleke met die vorige seisoen, ondanks die droogtetoestande wat die La Niña-weerstoestande in dele van Suid-Amerika veroorsaak het. Voorraadvlakke kan effens verbeter en dit is volgens hom dus moontlik dat pryse sywaarts kan beweeg, wat goeie nuus is vir die rigting van plaaslike voedselinflasie.