
Graanboere langs die
Oranjerivier, wat nie vanjaar Graan SA se kongres kon bywoon nie, het Schoeman
versoek om namens hulle ’n mosie van medelye in te dien oor die feit dat talle
boere hard getref is deur beurtkrag se impak op besproeiing, asook vloede.
Mnr. Gerhard Bruwer, ’n boer van die distrik Douglas, het deur middel van ’n boodskap aangedui dat hulle nie self die kongres kan bywoon nie, want hulle probeer tans kop hou om hul mielies te besproei te midde van beurtkrag, asook die skade wat onlangse vloede langs die Oranje- en Benede-Oranjerivier veroorsaak het. Van die boere langs dié riviere moes in ’n stadium bote gebruik om tydens die vloedtoestande by hul kragpunte uit te kom om tydens beurtkrag steeds die gewasse wat nie oorstroom is nie, te kon besproei.
“Daar is van ons werkmense wat gevra het dat ons asseblief vir hulle groter wekkers kry, want hulle moes alle tye van die nag opstaan om seker te maak dat pompe aanskakel te midde van beurtkrag,” het Schoeman gesê.
Die situasie rondom die hittegolf, beurtkrag en besproeiing het vir talle boere erge gevolge ingehou met sommige oeste wat groot skade gely het, terwyl die skade in ander dele nie so erg was soos wat verwag was nie.
Schoeman het die mosie ingedien waarvolgens die kongres sy meegevoel en steun uitspreek vir boere wat gebuk gaan onder finansiële en emosionele skade wat breutkrag en die vloede veroorsaak het. Kyk hier na sy boodskap:
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.