
Boere langs die Oranje- en Vaalrivier hou hul asems op vir ramphulp vir oes-verliese, want nie almal het versekering nie.
Mnr. Jors van der Westhuizen, ‘n wingerd- en katoenboer van die Grootdrink-distrik, sê 23 boere in die distrik het meer as 50% van hulle oeste verloor.
“Ons is redelik baie ouens wat, weens die lae pryse wat ons kry en die styging in insetkostes, die afgelope vyf jaar nie versekering kon bekostig nie. Ons is eintlik afhanklik van ramphulp”.
Minister sê geen hulp met oeste
Intussen het me. Tina Joemat-Pettersson, die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, Dinsdag (18 Januarie 2011) gesê die regering sal nie betaal vir verlies aan oeste weens die oorstromings nie.
Luidens ‘n berig op Fin24.com het sy in ‘n verklaring gesê dat ramphulpfondse slegs vir skade aan infrastruktuur toegestaan sal kan word, en dat hulle hoop dat boere hulle skade aan oeste by versekeringsmaatskappye sal kan terugeis.
Die skade
“Joemat-Pettersson sal weer `n bietjie hieroor moet besin. Hier is baie ouens wat nie sal kan voortgaan weens hulle oesskade nie, ons het daai hulp nodig”, vertel Van der Westhuizen. Van der Westhuizen sê die watervlak het by hulle met sowat 1,8m gedaal en van die boere het voorlopige skade-opnames gedoen.
“Die skade by sommige is tot R1,4 miljoen. Een boer het sy totale wingerd van 90ha verloor wat totaal onder water was. Hoe moet mens dié skade self dra?” Volgens Van der Westhuizen sal die situasie ook boere se vermoë om plaaswerkers in diens te neem en te betaal, beïnvloed.
“Ek persoonlik het gewoonlik tussen 30 en 40 seisoenale werkers aangestel, maar ek gaan dié jaar nie eens fondse of werk hê vir selfs 20 nie”. Kyk hier na nog foto's.
Bron: Fin24.com
19 Januarie 2011