Die aanvang van die COP17-beraad in Durban het die fokus opnuut op klimaatsverandering geplaas, die dag nadat grootskaalse oorstromings in die omgewing voorgekom het.
’n Geweldige storm wat Sondag (28 November 2011) oor Durban en Pietermaritzburg losgebars het, het talle huise verwoes, terwyl agt mense dood is. Altesame 13 mense is die afgelope twee weke in KwZulu-Natal weens vloede en swaar reën dood, berig News24.
Sewe mense is in die woonbuurte Umlazi en Clermont dood nadat ’n huis op hulle ingetuimel het. Sowat 100 huise in die woonbuurt Isipingo is oorstroom.
’n Rampbestuurspan sal die skade in verskeie dele van Durban en Pietermaritzburg takseer.
Verskeie mense, insluitend ’n baba van een jaar, is uit huise in Durban gered nadat ’n kitsvloed die omgewing getref het. Sommige huise in die Randles-pad is omring deur heuphoë water ná hewige neerslae voorgekom het.
Intussen het die COP17-beraad pas in Durban begin met pres. Jacob Zuma wat die beraad toegespreek het. Hy sê die tyd is hier vir goeie leierskap tydens dié beraad.
Hy sê ook dat klimaatsverandering ’n kwessie van lewe of dood is vir die meeste mense in die ontwikkelende wêreld. Hou Landbou.com dop vir meer nuus oor COP17.
Bron: News24
28 November 2011