
Voedselinflasie het gedurende September tot 12,3% toegeneem, vergeleke met 11,5% in Augustus. Die grootste aandrywers van die toename was brood en grane, vleis, melk, kaas en eiers, en groente.
Sihlobo sê die styging in voedselpryse strook met die styging in pryse van landboukommoditeite weens onder meer die droogte in Suid-Afrika, hoër verskepingskoste, ’n groter vraag na landbouprodukte in China en die oorlog tussen Rusland en Oekraïne. Hoër brandstofpryse sedert die begin van dié oorlog het ook tot hoër voedselinflasie bygedra.
Volgens Sihlobo het hoër globale pryse van graan en oliesaad vir die grootste gedeelte van die jaar daartoe gelei dat brood en grane, asook olies en vette meer kos. Stygings in verbruikerspryse het voorgekom by vleis (35%), brood en grane (21%), melk, kaas en eiers (17%), groente (8%), suiker, lekkers en nageregte (4%), olies en vette (3%) en vrugte (2%).
Sihlobo meen die styging in groentepryse is ’n kortstondige verskynsel weens seisoenaliteit wat ’n afname in volumes veroorsaak. “Ons verwag dat pryse in die komende maande sal herstel, veral aangesien weersomstandighede na verwagting sal verbeter en produksie ’n hupstoot sal gee.”
Onsekerheid oor vleispryse
Hoewel vleispryse gedurende September effens toegeneem het, is daar volgens Sihlobo onsekerheid oor wat in die toekoms met vleispryse sal gebeur. “Die uitbrekings van bek-en-klouseer het gelei tot die tydelike sluiting van verskeie belangrike uitvoermarkte vir die rooivleisbedryf. Gewoonlik sou dit ’n pryse laat daal aangesien dit ’n toename in plaaslike vleisvoorrade impliseer.
“Hierdie keer is die omvang van die siekte so groot dat dit gelei het tot ’n effense afname in slagvolumes by voerkrale, wat rooivleispryse relatief hoog gehou het – die teenoorgestelde van wat ons verwag het sou gebeur.”
Die slagsyfer van beeste het gedurende Augustus met 2% tot 206 052 stuks teenoor die vorige jaar gedaal.
Sihlobo sê dat die styging in globale graan- en oliesaadpryse begin afplat. Hierdie ontwikkeling sal in die komende maande ook in plaaslike voedselinflasie weerspieël word. “Ons verwag dat plaaslike voedselinflasie teen einde 2022 en begin 2023 sal bedaar. Die huidige vlakke is ver bo ons aanvanklike verwagtinge dat voedselinflasie ’n hoogtepunt in Julie sou bereik.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.