
Volgens Maré was Suid-Afrika se kragvoorsiening, tot beurtkrag in 2007 begin het, van die betroubaarste en Suid-Afrika se krag was ook van die goedkoopste. Die land se ekonomie het op die nasionale kragnetwerk staatgemaak.
Gedurende die afgelope paar maande is heelwat berig oor die impak van beurtkrag op Suid-Afrika se voedselstelsel, onder meer beeldmateriaal van verdroogte gewasse en dooie hoenders, en artikels oor hoe voedselsekerheid gekniehalter sou word.
Maré meen dié artikels het verbruikers laat vrees dat daar nie genoeg kos sou wees nie. “Die impak van beurtkrag kan baie ernstig op sommige primêre produsente wees en selfs veroorsaak dat sommige boerderye nie kan voortgaan nie. Dit beteken egter nie noodwendig dat daar ’n tekort aan voedsel sal wees nie, want die primêre landbousektor is divers.”
Hy sê die prys van sommige voedselsoorte sal styg weens laer voorraad en hoër produksiekoste, wat voedsel minder bekostigbaar sal maak.
’n Groot probleem wat beurtkrag skep, is volgens hom die verwerking van voedsel, veral vars produkte wat van ’n volgehoue koueketting afhanklik is. “Ter wille van voedselveiligheid en gehalte moet vars produkte by konstante temperature opgeberg word. Verwerkers en verspreiders het dus geen ander keuse as om duur private kragopwekkers te gebruik nie, wat die koste van voedsel verder laat styg.”
’n Verdere probleem is dat die verwerkingsproses slegs met krag vanaf die nasionale netwerk kan funksioneer. “Hoewel daar dus op kommoditeitsvlak genoeg voedsel is, kan hierdie kommoditeite nie so vinnig soos in die verlede tot finale voedselprodukte verwerk word nie. Die bottelnek-effek verminder die verskaffing van voedselprodukte en laat pryse toeneem.”
Maré sê daar moet nie uit die oog verloor word nie dat beurtkrag ook ’n impak op verbruikers se voedselkeuses het aangesien die beskikbaarheid van krag ’n impak het op verbruikers se vermoë om voedsel voor te berei.
“Meer bekostigbare voedsel duur gewoonlik langer om voor te berei, terwyl kits- of wegneemetes gewoonlik duurder is. Die hoë vraag na hierdie duurder produkte weens beurtkrag plaas voedselpryse onder verdere druk.”
Beurtkrag se monsters
Hoewel beurtkrag die sigbaarste monster is, is die vinnige tempo waarteen kragpryse toeneem en die ontmoediging van toekomstige investering verdere monsters wat tot probleme in die algehele voedselstelsel kan lei.
“Volgens my is die kragkrisis nog nie ’n bedreiging vir voedselsekerheid ten opsigte van beskikbaarheid nie. Dit skep egter ’n monster ten opsigte van voedselpryse en maak kos dus minder bekostigbaar.”
Private sonkrag en brandstofaangedrewe kragopwekkers bied verligting, maar is volgens hom nie ’n oplossing vir die kragkrisis nie.
“Vir verbruikers wat groot hoeveelhede krag benodig, is dit te duur om batterye te installeer om sonkrag snags te gebruik. Jy sit ook met ’n probleem as dit bewolk is of reën. Sonkrag is slegs ’n aanvuller tot die nasionale netwerk gedurende die dag.
“Kragopwekkers kan heeldag krag voorsien. Die koste om 1 kW krag só op te wek, is egter dubbeld wat Eskom vra, wat dit op lang termyn te duur maak.”
Volgens Maré is die herstel van die nasionale kragnetwerk se funksionaliteit die enigste manier om die volhoubaarheid van die voedselwaardeketting in die toekoms te verseker.
“Daar is baie korttermynoplossings, maar geen van hulle is tans volhoubaar genoeg om op ’n bekostigbare manier in mense se kragbehoeftes te voorsien nie. Hoewel dit ’n tydjie sal duur om Eskom weer funksioneel te maak, meen ek nie dat Suid-Afrika ’n tekort aan kos sal hê nie. Ons sal egter ons gordels stywer moet trek om voedsel te kan bekostig terwyl die monsters in die donker skuil.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.