
'n Tweede uitbreek van voëlgriep is op 1 Augustus op 'n Astral-plaas naby Standerton aangemeld.
Luidens 'n nuusverklaring deur die JSE se nuusdiens, Sens, (Stock Exchange News Service), is dié gebeure onder aandeelhouers se aandag gebring.
Volgens Sens beloop die koste-uitwerking van die uitbrekings ongeveer R25 miljoen. “Ten spyte van uiterste maatreëls om enige verdere uitbrekings te keer, is dié tweede geval geïsoleer. Dit is bevestig in een pluimvee-skuur op 'n Astral-teelplaas bestaande uit 48 pluimveeskure in die Standerton-area, aan die oewer van die Grootdraaidam.”
Met omsigtigheid gehanteer
Luidens Sens word dié uitbreking met die uiterste omsigtigheid gehanteer. Die finansiële impak tot op datum van hierdie tweede uitbraak is nog steeds beperk, en moontlike toekomstige koste kan nie bepaal word nie. Dit hang af of dit verder gaan versprei.
* Mnr. Mike Modisane, hoofdirekteur van diereproduksie en -gesondheid by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, is bekommerd dat die hoogs aansteeklike voëlgriepvirus oor ’n groter afstand as wat aanvanklik gedink was, strek, skryf JOYLENE VAN WYK.
Meer as 813 000 hoenders is reeds van kant gemaak en byna drie miljoen eiers is vernietig word weens die H5N8-virus wat op drie plase in Mpumalanga en een in Gauteng uitgebreek het. Hoenders kos R1 000 elk op die teelhoenderplaas.
Streng maatreëls
Modisane het aan die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye gesê hoewel streng maatreëls ingestel is om die verspreiding van die virus in bedwang te hou, word hoop ook gevestig dat die koms van die somer verdere verspreiding sal voorkom. Die virus, wat nie soogdiere of mense aantas nie, is nie hitte weerstandig nie. In Uganda was dit so warm dat die virus self gedood het, het Modisane gesê. Egipte, wat sy hoenders teen die virus ingeënt het, het agterna aangedui dat hierdie voorkomingsmaatreël ’n fout was.
Modisane het verduidelik dat baie keer ná inenting die moontlikheid bestaan dat die entstof óf nie doeltreffend nie is nie óf dat ’n endemiese stabiliteit geskep word. Dit beteken dat dit dan ’n endemiese siektetoestand sal wees en dit word dan ’n bykomende uitgawe vir hoenderboere.