
Mnr. Willie Bruwer, boer en veebemarker van Loxton, sê hy het besef daar is ’n behoefte om voerverkryging te koördineer toe hy gesien het hoe die diere wat hy by boere koop, se toestand agteruitgaan. “Ons het besef as ons nie behoorlik vir ons produserende diere sorg nie, gaan ons later geen diere beskikbaar hê vir bemarking en slag nie.”
Mnr. Sybrand Venter van die plaas Trywell by Carnarvon meen ’n voergroep is ’n praktiese manier vir boere wat dit nog kan bekostig om hulleself te help. Dit raak nie makliker nie. Die re?n bly weg, en vleispryse speel nie elke week saam nie. “Baie boere praat al van ‘dag zero’, wanneer hulle nie nie meer geld gaan hê om voer te koop nie.”
Sy groep het amper 80 lede, terwyl Bruwer drie groepe met onderskeidelik 63, 159 en 28 lede help en bedryf. Hy help ook ’n groep van Kenhardt om aan die gang te kom.
Die Karoo is besig om in sy normale re?ntyd in te beweeg. Tog het Bruwer en boere in sy omgewing uitgewerk al re?n dit nou 100 mm of meer, sal hulle nog vir drie tot drie en ’n half maande, en selfs langer, voluit moet voer om die veld ’n kans te gee om ’n bietjie te herstel.
Venter en Bruwer sê hulle probeer om die produkte wat hulle aankoop, te beperk tot drie of vier produkte soos mielies, lusernhooi en hawerhooi. “Onthou, ’n skaap se maag is ’n gevoelige ding wat omtrent drie weke nodig het om by ’n nuwe voer aan te pas. Dit help nie jy gee een week dit en die volgende week iets heel anders nie,” sê Venter.
Wat mense ook in gedagte moet hou as hulle sekere ruvoer wil skenk, is dat baie Karooboere nie hamermeule, trekkers of voermengers het nie. Dit sal dus baie help as hulle ook vitamien- of mineraallekke of melassemeel kan skenk om die voer verteerbaarder te maak.
Mense wat hulle wil help, kan mnr. Sybrand Venter by 082 781 1689 en mnr. Willie Bruwer by 082 326 9183 bel om eerstehandse inligting te kry oor wat hulle nodig het en hoe duur vervoerkoste oorkom kan word.